HerskepVoorbeeld
God Wil 'n Emosionele Verhouding Met Jou Hê
Die Bybel sê in Markus 12:29-30 (NLV): "Die belangrikste gebod is die volgende: ‘Luister, o Israel, die Here ons God is die énigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag."
Hoor jy die emosie in Jesus se woorde? Hy sê dat Hy nie wil hê jy moet Hom sommer net oppervlakkig liefhê nie. Hy wil hê jy moet Hom met passie liefhê — met jou hele hart, met jou ganse siel en met al jou krag. God wil nie net jou verstand hê nie; Hy wil 'n emosionele verhouding met jou hê.
Hier is 'n paar dinge omtrent emosies wat jy moet verstaan.
1. Eerstens: God het emosies.
God is 'n emosionele God. Hy voel vreugde, hartseer en pyn en haat sonde. Mense frustreer Hom. Die enigste rede hoekom jy emosies het, is omdat jy as die beeld van God geskape is. As God nie 'n emosionele God was nie, sou jy geen emosies gehad het nie.
2. Jou vermoë om gevoelens te hê, is 'n geskenk van God.
Gevoelens maak jou menslik. Dit is jou vermoë om gevoelens te hê wat jou in staat stel om lief te hê en kreatief te wees, om getrou en lojaal te wees, en vriendelik en vrygewig, en al die emosies wat met die goeie dinge in die lewe gepaardgaan. Jou emosies mag dalk nie altyd soos 'n geskenk voel nie, maar selfs die negatiewe emosies het 'n doel in jou lewe.
3. Daar is twee uiterstes wat jy moet vermy.
Emosionalisme sê dat die enigste ding in die lewe wat saakmaak is hoe jy voel — nie wat jy dink of wat reg of verkeerd is nie. Alles in die lewe is op jou emosies gebaseer; hulle beheer jou lewe.
Stoïsisme, die ander uiterste, sê dat gevoelens glad nie belangrik is nie en die enigste ding wat saakmaak jou verstand en jou wil is.
Daar is Christen denominasies wat op hierdie twee benaderings van emosies gefundeer is. Sommige Christene het besluit dat dit nie regtig saakmaak hoe jy voel nie. Hulle maak emosies af as minder belangrik.
Dis nie reg nie. God het jou emosies gegee vir 'n rede en Hy wil hê jy moet Hom met emosie aanbid — met jou hele hart en verstand.
LUISTER na vandag se klankgreep van pastoor Rick se lering >>
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Soos Paulus, in die Nuwe Testament, mag jy dalk ook weet dat jy nog nie die persoon is wat God wil hê jy moet wees nie (Filippense 3:12). In hierdie reeks gee pastoor Rick die stappe wat nodig is om vorentoe te beweeg om jou doel na te streef om herskep te word om soos Christus te wees.
More