HerskepVoorbeeld
Hoe Om die Vyande van Goeie Bedoelings te Beveg
Die rede hoekom die meeste mense 'n oneffektiewe lewe lei, is omdat hulle nooit geleer het hoe om die stryd in hulle gedagtes te veg nie.
As jy wil leer hoe om jou gedagtes te bestuur, moet jy dit vry hou van vernietigende denke. Dis nie maklik nie. Daar is drie vyande wat jou van al jou goeie bedoelings om jou lewe te verander, weerhou.
1. Die eerste vyand is jou ou natuur.
In Romeine 7:23 (AFR20) skryf Paulus: “Ek sien 'n ander wet wat in my ledemate oorlog voer teen die wet van my verstand en my krygsgevange neem deur die wet van die sonde wat in my ledemate is."
Vind jy ooit dat jy dinge doen wat jy nie regtig wil doen nie? Dis die tweestryd in jou verstand teen die ou, sondige natuur en jou goeie bedoelings.
2. Die tweede vyand is die Satan.
Die Satan kan jou nie dwing om iets te doen nie, maar hy kan voorstelle maak en daardie voorstelle is baie kragtig. Hy plant gedurig negatiewe gedagtes in jou denke. Hy sal ander mense gebruik, of die televisie, of hy sal bloot net 'n gedagte in jou denke loslaat.
3. Die derde vyand is die wêreld se waardestelsel.
Is daar enige iets in ons samelewing wat selfdissipline aanmoedig? Glad nie. Inderwaarheid sê elke advertensie: "Jy verdien vandag 'n aftydjie. Doen wat jy wil. Ons doen dit als net vir jou."
In 1 Johannes 2:16 (NLV) sê die Bybel: “Wat ook al in die wêreld bestaan, alles wat tipies is van die menslike begeerte, die begeerte vir alles wat die oog sien, en die vals roem op besittings, kom nie van die Vader nie, maar het sy oorsprong in die wêreld."
Dis geen wonder dat ons, met sulke vyande, mismoedig en wanhopig is en misluk nie!
Hoe veg ons hierdie stryd? Kyk wat sê 2 Korintiërs 10:3-5: “Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak."
Jy het 'n keuse. Jou denke moet na jou luister. God het nie net vir jou 'n verstand gegee nie; Hy het jou ook 'n wil gegee! Die beste oomblik om die stryd teen die versoeking te wen, is voor dit gebeur.
“Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe" (Psalm 119:112 NLV).
LUISTER vandag na die klankgreep van pastoor Rick se lering >>
Aangaande hierdie leesplan
Soos Paulus, in die Nuwe Testament, mag jy dalk ook weet dat jy nog nie die persoon is wat God wil hê jy moet wees nie (Filippense 3:12). In hierdie reeks gee pastoor Rick die stappe wat nodig is om vorentoe te beweeg om jou doel na te streef om herskep te word om soos Christus te wees.
More