Om die Waarheid van God in Lewensstorms te VindVoorbeeld

Finding God's Truth In The Storms Of Life

DAG 5 VAN 10

Vind Krag in die Here

Vrees moenie afgelag of ligtelik opgeneem word nie. Vrees het kragtige mense daarvan weerhou om uitnemende prestasies te bereik. Menige weermag is al deur vrees in hulle spore gestuit. As jy dit toelaat, sal vrees probeer om jou ook te stop.

Wat ons het, is groter as vrees — ons het vir God. Hierdie wete behoort ons daarvan te weerhou om deur vrees lamgelê te word, maar dikwels doen dit nie. Alhoewel ons Christene is, laat ons steeds gereeld toe dat vrees die oorhand kry.

Ons oorgawe aan vrees wys dat ons nie werklik die almagtigheid van God verstaan nie.

Vandag se Skriftedeelte uit Psalm 46 skets vir ons 'n dramatiese beeld van hoe vrees deur geloof vernietig word. Die psalmskrywer sê dat, omdat God sy hulp is, hy nie sal bang wees nie — selfs nie eens as die aarde sou padgee en die berge tot in die dieptes van die see sou skuif nie! Dit is ongelooflik! 

Indien jy al ooit 'n besoek aan Tafelberg of die Drakensberge gebring het, kan jy jou indink hoe bang jy sou wees as dit rondom jou begin ineenstort. Die psalmskrywer sê nie dat die ineenstorting van berge nié ysingwekkend is nie. Hy sê wel dat sy geloof sterker is as sy vrees.

Vrees vertel ons dat ons alleen is; dat ons ons uitdagings en beproewings op ons eie moet hanteer. Dit herinner ons aan ons swakheid. Dit wys ons eie mislukkings aan ons uit. Geloof rig egter ons fokus op God. Dit verseker ons dat ons nooit alleen is nie — God is altyd aan ons kant! Ook wys geloof ons dat ons swakheid net 'n geleentheid is om God se almag ten toon te stel.

Die lewe is met probleme en vreugdes gevul. Frederick Beuchner het dit soos volg gestel: "Hier is die wêreld. Wonderlike én verskriklike dinge sal gebeur. Moenie vrees nie." En hy was in die kol! Ons hoef nie bevrees te wees nie. Ons het 'n God wat alreeds die wêreld oorwin het.

Gebed: Liefdevolle Vader, dankie vir u krag wat groter is as enigiets wat ek hoef te trotseer. Help my om geloof te hê wat groter is as my vrees. Gebruik my swakheid om u almag ten toon te stel. Dankie dat daar geen einde aan u liefde vir my is nie. Amen.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Finding God's Truth In The Storms Of Life

As Christene is ons nie gevrywaar van probleme op aarde nie. Inteendeel, Johannes 16:33 verseker ons dat probleme sal opduik. Indien jy tans lewensstorms trotseer, is hierdie leesplan vir jou bedoel. Dit is 'n herinnering aan die hoop wat ons deur die lewensstorms dra. Indien jy tans nie enige stryd ervaar nie, sal dit die fondament vestig wat jou sal help tydens toekomstige beproewinge.

More

Ons wil graag vir Vernon Brewer, stigter en hoof uitvoerende beampte van World Help, wat hierdie leesplan verskaf het, bedank. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.worldhelp.net