YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 96 OF 364

Waarom hou God almal aan die wet as niemand dit volmaak kan onderhou nie? — Romeine 5:12, 20

Hoofstuk 5-8 spel die gevolge van God se vryspraak in ons lewe uit. Daar is nou vrede tussen ons en vrye toegang (vgl Hebreërs 10:19) tot God. Daarom loof Paulus die Here in die eerste perikoop vir die vrede wat daar nou tussen ons en God gekom het. Dit alles is moontlik omdat God se liefde in ons hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat ons oortuig dat Hy in ons woon en in ’n verhouding met God kan laat groei.

Paulus keer in die volgende perikoop — Romeine 5:12-20 — terug na die onderwerp van die sonde, maar sit vir die eerste keer Adam op die tafel om daarmee die universele reikwydte van die sonde sowel as die vryspraak te illustreer. Hierdie is een van die kerngedeeltes wat die erfsonde se bestaan motiveer.

In Adam se sonde as die simboliese beginpunt van die menslike geslag het alle mense deel. Adam se sonde het die dood gebring vir alle mense. Adam – die oorsprong van die menslike geslag – word egter met Christus gekontrasteer – die oorsprong van die nuwe menslike geslag – wat die lewe moontlik maak vir alle mense. Jesus is in ’n baie spesifieke sin die nuwe mens waaruit God die nuwe mensheid laat voortspruit. En deur Hom voer die genade nou heerskappy eerder as die dood met die heerlike vooruitsig dat dit tot die ewige lewe lei.

Die idee van die erfsonde het 'n neerslag gevind in die teologie van Irenaus wat die eerste verwoording daarvan gepubliseer het in Against Heresies, sowel as in Augustinus se City of God waarin hy onder andere gesê het: "Selfs babas word as sondaars gebore, nie deur hul eie daad nie, maar weens hul oorsprong."

Die Hervormers Luther en Calvyn het dié idee in hulle teologie opgeneem wat uiteindelik 'n neerslag in al drie Gereformeerde belydenisskrifte gevind het. Calvyn skryf in sy Institusie die volgende daaroor in Boek II. hoofstuk i:

"Daarom word erfsonde gesien as 'n oorerflike verdorwenheid en korrupsie van ons natuur wat in alle dele van die siel versprei is ... daarom diegene wat erfsonde gedefinieer het as die gebrek aan die oorspronklike geregtigheid waarmee ons beklee moes gewees het, ongetwyfeld sluit, by implikasie, die hele feit van die saak in, maar hulle het nie die positiewe energie van hierdie sonde ten volle uitgedruk nie. Want ons natuur is nie bloot van die goeie beroof nie, maar is so produktief van elke soort kwaad dat dit nie onaktief kan wees nie. Diegene wat dit begeerlikheid ['n sterk, veral seksuele begeerte, wellus] genoem het, het 'n woord glad nie wyd van die merk gebruik nie, as dit bygevoeg word (en dit is wat baie nie toegee nie) dat alles wat in die mens is van intellek tot wil, van die siel tot die vlees, is alles besoedel en propvol begeerlikheid; of, om dit kortliks op te som, dat die hele mens in homself niks anders as begeerlikheid is nie."

Luther skryf sy kommentaar op Romeine soos volg daaroor:

“Maar wat is dan die erfsonde? Volgens die Apostel is dit nie net die gebrek aan 'n goeie eienskap in die wil nie, ook nie bloot die verlies van die mens se geregtigheid en vermoë nie. Dit is eerder die verlies van al sy kragte van liggaam en siel, van sy hele uiterlike en innerlike volmaakthede. Daarbenewens is dit sy neiging tot alles wat sleg is, sy afkeer van dit wat goed is, sy afkeer van lig en wysheid, sy liefde vir dwaling en duisternis, sy vlug van en sy afsku van goeie werke, en sy soeke na dit wat sondig is. So lees ons in Psalm 14:3: 'Hulle het almal eenkant toe gegaan, almal saam het hulle vuil geword; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie'; en in Genesis 8:21: 'Die verbeelding van die mens se hart is sleg van sy jeug af.' Werklike sondes bestaan in wese daarin dat hulle uit ons kom, soos die Here sê in Matteus 15:19: 'Uit die hart kom slegte gedagtes, moorde, owerspel, hoererye, diefstalle, valse getuienis, godslasteringe.' Maar oorspronklik kom ons binne; ons pleeg dit nie, maar ons ly dit. Ons is sondaars omdat ons die seuns van 'n sondaar is. ’n Sondaar kan net ’n sondaar verwek, wat soos hy is.”

Die leer van die erfsonde bely dus: dat ons nie sondig is omdat ons sonde doen nie, maar dat ons sonde doen omdat ons sondig is. Ons wil is gebonde vanweë ons sondige natuur en moet deur die Heilige Gees verlos word om God se genade in Christus te ontvang. Dit is 'n sleutelbegrip vir die verstaan van sondigheid as iets waarmee ons gebore word, soos ook in ons doopformulier geformuleer word.

Wat is dan die funksie van die wet? Dit is bygevoeg as gevolg van die sonde (NEB vertaal: "to make wrongdoing a legal offence"), sodat ons ons sondigheid kon insien, en ons toevlug kon neem tot die verlossing wat Jesus vir ons bewerk het.

1. Hoe dink jy oor die erfsonde? Paulus onderstreep dat die sonde deur Adam in die wêreld gekom het en dat ons die wet nodig het om ons die ontsaglike omvang van die oortredings te laat raaksien. Stem jy met hom saam?

2. Hoe raak dit jou persoonlik? Hoe laat dit jou voel? Hoe laat dit jou oor menswees dink?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die nood van hierdie wêreld en die verlossing wat Jesus daarvoor gebring het.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Romeine 5 met die tema: Vryspraak lei tot vrede en vrye toegang.

Day 95Day 97

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More