Wie Is God?Sample
Die belofte van die ewige lewe
Ons kom aan die einde van my bydraes oor die 52 vrae oor God en sy werk in ons lewe. Dit was 'n wonderlike reis saam met julle almal. Dit is dan ook gepas om af te sluit met die belofte van die ewige lewe.
Die boek Openbaring sluit in hoofstuk 22 af met:
- ’n prentjie van die utopiese karaktervan die Nuwe Jerusalem wat herinner aan die oorsponklike paradystuin van Eden in Genesis 2 sowel as die saligspreking van Psalm 1 wat ook met ’n boom metafoor werk — vers 1-5 en
- ’n versekering van die Here Jesus Christus se wederkoms in ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek — vers 6-21.
Water van lewe en genesing vloei uit die Nuwe Jerusalem — vers 1-5
Soos die vorige hoofstuk die impak van God uit die Nuwe stad Jerusalem — die metafoor vir die geloofsgemeenskap — op die omliggende nasies beskryf met die metafoor van LIG wat lewe gee, só beskryf Johannes op soortgelyke wyse die impak van God in hierdie hoofstuk met die metafoor van WATER wat lewe gee.
Hierdie water loop soos ’n rivier uit die troon van God en die Lam en gee lewe asook genesing via die boom van die lewe wat by die rivier geplant is en via sy vrugte en blare genesing bring. Dit sluit baie nou aan by Esegiël 47 wat beide oor die stroom van water uit die heiligdom en die blare van die bome daar langsaan wat genesing bring, skrywe. Dit laat my ook dink aan Psalm 1 se prentjie van die oorvloed wat iemand beleef wat na God luister en met ’n boom wat by watervore geplant is, vergelyk word.
In dié utopia sal daar geen vervloeking meer wees nie. In die grondteks staan daar net: “Daar sal geen vloek meer wees nie”, maar in die konteks beteken dit dat God nie meer sal oordeel nie. Dit sal nie meer nodig wees nie, want almal sal met onbedekte gesig die lig van God se teenwoordigheid indrink en daarin en daaruit leef.
Die Here Jesus Christus kom vir seker weer — vers 6-21
Johannes sluit die boek af met ’n versekering van die Here Jesus Christus se spoedige wederkoms in ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek Openbaring. Dat die Here Jesus self drie keer dit herhaal, gee aan dié slotgedeelte ’n besondere krag: vers 7,12,20.
Dat die woorde van dié boek as betroubaar en waar geag word, soos die engel aan Johannes te kenne gee, gee besondere krag aan die oproep om gehoorsaam te wees. Trouens, Jesus se eerste belofte van sy wederkoms word as saligspreking daaraan verbind: “Geseënd is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.”
Soos in Openbaring 19 is die oomblik só groot vir Johannes dat hy weer die boodskapper probeer aanbid, maar word weereens gehelp om sy fokus op God te plaas, terwyl hy ook aangemoedig word om die woorde van die profesie wyd te versprei weens die spoedige aard daarvan in belang van die lewens van mense. Die woorde in vers 11 kan op twee maniere verstaan word, as ’n beskrywing van wat in werklikheid gebeur — sondaars hou aan met sondig, dié wat gehoorsaam is, groei in gehoorsaamheid — óf as ’n waarskuwing aan goddeloses dat hulle op ’n pad is wat na die verderf lei en omgekeerd ’n aanmoediging aan gelowiges dat hulle moet volhou op die pad wat na die volle gemeenskap met God lei.
Die beloning van die Here Jesus dui nie op ’n verdienstelike karakter van die wederkoms nie, maar op die sekerheid van die redding van diegene wat in ’n verhouding met Hom lewe. Dit word gekontrasteer met dié wat nie deel van die stad sal hê nie, ’n soortgelyke lys as wat in hoofstuk 21 gegee is.
Die Gees en die bruid eggo die belofte van die Here Jesus se koms met die byvoeging dat daar nog genadetyd beskikbaar is vir dié wat dors het en luister.
Johannes bevestig self oor die inhoud van sy boek dat dit gesagvol is, een van die redes waarom die boek uiteindelik in die kanon ingesluit is, komende van ’n apostel wat die Here Jesus op aarde geken het
Die boek sluit met die derde belofte van die Here Jesus Christus dat Hy op pad is om terug te keer, waarop die kerk asof in ’n liturgie antwoord: “Amen! Kom, Here Jesus!”, asook ’n seënbede waarin net die naam van die Here Jesus en sy genade genoem word.
‘n Ietsie ekstra:
Die heerlikheid van God
Die heerlikheid van God is 'n ontsagwekkende kaleidoskoop van kleure. Johannes sê in Openbaring dat Hy die voorkoms het van 'n kristalhelder Jaspissteen — groen (Openbaring 21:10-11). Op 'n ander plek sê Johannes dat God ook die voorkoms van Karneool het — rooi. Trouens, rondom sy troon is 'n reënboog of "halo" (iris) wat soos smarag (σμαράγδινος) skyn — ook groen (Openbaring 4:3).
Daarmee word natuurlik 'n verband gelê met die OT teken van die reënboog (qěšěṯ) met sy betekenis as 'n teken van die verbond van God met die aarde en almal daarop om nie weer die hele aarde met water te vernietig nie (Genesis 9:12-17).
Esegiël beskryf sy troon as gebou van saffiere — blou — en sy voorkoms soos blinkende brandende metaal: "Die glans rondom was soos dié van die reënboog in ’n wolk na die reën" (Esegiël 1:22-28). Soos Moses dit ook in Eksodus doen: "onder sy voete was ’n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self." (Eksodus 24:9)
Let op dat dit aan die een kant die primêre kleure is waarmee alle fotograwe werk, RGB, Rooi-Groen-Blou. Die beskrywing van God hou ook verband met die primêre kleure van die verf waarmee kunstenaars werk: rooi, geel, blou. Maar hier is dit veral die primêre kleure van lig wat in fokus is.
Die heerlikheid van die nuwe stad Jerusalem
Die heerlikheid van die nuwe stad Jerusalem eggo God se heerlikheid, want die belangrikste boustof van die mure is ook Jaspis. Die stad is verder van suiwer goud gebou. Die glans daarvan is soos suiwer glas of kristal.
Die fondamente van die stad is versier met edelgesteentes, twaalf van die sogenaamde anisotropiese edelgesteentes wat nie net hulle eie kleur het nie, maar onder suiwer lig al die kleure van die reënboog aanneem. Interessant is dat daar nie isotropiese edelgesteentes op die fondamente is nie, want wanneer daar suiwer lig op hulle val, dan raak hulle swart of grys. Dit is dinge soos diamante of robyne.
Dit is nie iets wat Johannes in die eerste eeu van ons jaartelling sou geweet het nie. 'n Getuienis van God se kennis wat allesomvattend is.
Dit is die 12 edelgesteentes waarmee die fondamente versien is, die fondamente waarop die name van die twaalf apostels van die Lam geskrywe staan:
Jaspis is ook groen, anders as in hierdie grafika
- JASPIS (ἴασπις) — groen — die hele stad Jerusalem is van japisstof gebou (Openbaring 21:10-11), maar dit is ook die eerste edelgesteente op die fondamente (Openbaring 21:19);
- SAFFIER (σάπφιρος) — blou (Openbaring 21:19);
- AGAAT (χαλκηδών) — melkerig grys (Openbaring 21:19);
- SMARAG (σμάραγδος) — groen (Openbaring 21:19);
- SARDONIKS (σαρδόνυξ) — wisselende kleure (Openbaring 21:20);
- KARNEOOL (σάρδιον – Sardius) — rooi (Openbaring 21:20);
- CHRISOLIET (χρυσόλιθος) — geelgoud (Openbaring 21:20);
- BERIL (βήρυλλος) — blou of groen (Openbaring 21:20);
- TOPAAS (τοπάζιον) — geel (Openbaring 21:20);
- CHRISOPRAAS (χρυσόπρασος) — groen (Openbaring 21:20);
- HIASINT (ὑάκινθος) — blou (Openbaring 21:20);
- AMETIS (ἀμέθυστος) pers of violet — (Openbaring 21:20). [1]
Met suiwer lig daarop gefokus Dieselfde lig op iets soos 'n diamant
En dan is daar nog die poorte van die stad wat elkeen uit 'n kosbare massiewe pêrel gebou is en die strate van goud wat so deurskynend soos glas is.
[1] Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996. Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains, 1, p.24.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More