Wie Is God?Sample
Wat is die nagmaal? – Die belydenisskrifte
1. Lees die Nederlandse Geloofsbelydenis 35, Heidelbergse Kategismus 75-82, en Westminster Geloofsbelydenis 29. Wat leer jy oor die nagmaal? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?
Nederlandse Geloofsbelydenis 35
DIE HEILIGE NAGMAAL
Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal beveel en ingestel het om hulle te voed en te onderhou wat Hy reeds wederbaar en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. Nou het dié wat weergebore is, tweërlei lewe in hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hulle eerste geboorte saamgebring het en wat alle mense besit; die ander geestelik en hemels, wat aan hulle gegee word in die tweede geboorte, wat deur die Woord van die evangelie in die gemeenskap van die liggaam van Christus plaasvind. Almal deel nie in hierdie lewe nie, maar slegs die uitverkorenes van God. So het God tot instandhouding van die liggaamlike en aardse lewe vir ons aardse en gewone brood voorsien; dit dien die lewe en behoort, soos die lewe self, aan almal.
Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges besit, in stand te hou het Hy vir hulle 'n lewende brood gestuur wat uit die hemel neergedaal het, naamlik Jesus Christus. Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy geëet, dit wil sê deur die geloof geestelik toegeëien en ontvang word. Om hierdie geestelike en hemelse brood vir ons af te beeld het Christus aardse en sigbare brood as 'n teken van sy liggaam en wyn as 'n teken van sy bloed ingestel.
Hy gee ons daarmee dit te kenne: so waarlik as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou en dit met ons mond eet en drink en dit daarna ons lewe in stand hou, net so waarlik ontvang ons vir ons geestelike lewe in ons siele deur die geloof — dit is die hand en mond van ons siel — die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser.
Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy sakramente vir ons voorgeskryf het nie; Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons deur hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en is dit vir ons onbegryplik hoe dit gebeur, net soos die werking van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is. Tog dwaal ons nie as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is nie; maar die manier waarop ons dit nuttig, is nie met die mond nie maar met die Gees deur die geloof. Daarom, al bly Christus altyd aan die regterhand van sy Vader in die hemel sit, hou Hy tog nie op om ons deur die geloof aan Homself deel te laat hê nie. Hierdie feesmaal is 'n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe laat geniet. Hy voed, versterk en vertroos ons arme troostelose siel as ons sy liggaam eet, en Hy verkwik en herstel dit as ons sy bloed drink. Verder, hoewel die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort, word nie beide deur alle mense ontvang nie. Die goddelose mens ontvang wel die sakrament tot sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die sakrament nie. So het Judas en Simon die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus, wat daardeur voorgestel word nie; Hy word slegs aan die gelowiges gegee.
Ten slotte, ons ontvang die heilige sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van die volk van God, waar ons met danksegging 'n heilige gedagtenis aan die dood van Christus ons Verlosser onderhou en belydenis van ons geloof en van die Christelike godsdiens doen. Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel eet en drink as hy van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink nie (1 Korintiërs 11:29).
Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons tot 'n vurige liefde vir God en ons naaste beweeg. Daarom verwerp ons alle brousels en verwerplike versinsels wat mense by die sakrament bygevoeg en daarmee vermeng het, as ontheiligings daarvan. Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die verordening wat Christus en sy apostels ons geleer het, en ons sê dieselfde as wat hulle daarvan gesê het.
Matteus 26:26; Markus 14:17; Lukas 22:19; 1 Korintiërs 11:24, 28; Johannes 3:6; 10:10; 5:25; 6:48, 51, 63; 1 Korintiërs 10:16, 27; Efesiërs 3:17; Johannes 6:35; Handelinge 3:21; Markus 16:14; Matteus 26:11; 1 Korintiërs 10:3-4; 11:29; Romeine 8:22; 2 Korintiërs 6:15; 1 Korintiërs 2:14; Handelinge 2:42; 20:7.
Heidelbergse Kategismus 75-82
75 Vraag: Hoe word jy in die heilige nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?
Antwoord: Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te drink. Daarby het Hy beloof (a), Ten eerste, dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word. Ten tweede, dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.
(a) Matteus 26:26-28; Markus 14:22-24; Lukas 22:19, 20; 1 Korintiërs 10:16, 17; 11:23-25; 12:13.
76 Vraag: Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?
Antwoord: Dit beteken nie slegs om met 'n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie (a). Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word (b), dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is (c); al is Christus nou in die hemel (d) en ons op die aarde. Dit wil se dat ons deur een Gees — soos die ledemate van die liggaam deur een siel — ewig lewe en geregeer word (e).
(a) Johannes 6:35, 40, 47, 48, 50, 51, 53, 54. (b) Johannes 6:55, 56. (c) Efesiërs 5:29, 30; 3:16; 1 Korintiërs 6:15; 1 Johannes 3:24; 4:13. (d) Kolossense 3:1; Handelinge 3:21; 1 Korintiërs 11:26. (e) Johannes 6:57; 15:1-6; Efesiërs 4:15, l6.
77 Vraag: Waar het Christus beloof dat Hy die gelowiges so seker met sy liggaam en bloed sal voed en verkwik as wat hulle van hierdie gebreekte brood eet en uit hierdie beker drink?
Antwoord: By die instelling van die nagmaal wat soos volg lui (a): "In die nag waarin Hy verraai is, het die Here Jesus brood geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: `Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis'. Net so ook die beker ná die ete met die woorde: 'Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle van hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom'" (1 Korintiërs 11:23-26). Hierdie belofte word ook herhaal deur Paulus waar hy sê: "Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood" (1 Korintiërs 10:16, 17).
(a) Matteus 26:26-28; Markus 14:22-24; Lukas 22:19, 20.
78 Vraag: Verander die brood en wyn dan in die werklike liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: (a) Nee, maar soos die water by die doop nie in die bloed van Christus verander of die afwassing van sonde self is nie, maar slegs 'n Goddelike teken en versekering daarvan (b), so verander die brood by die nagmaal nie in die liggaam van Christus self nie (c). Ooreenkomstig die aard en gebruik van die sakramente word die brood egter die liggaam van Christus genoem (d).
(a) Matteus 26:29. (b) Efesiërs 5:26; Tit 3:5. (c) 1 Korintiërs 10:16; 11:26. (d) Genesis 17:10, 11; Eksodus 12:11, 13; 13:9; 1 Petrus 3:21; 1 Korintiërs 10:3, 4.
79 Vraag: Waarom noem Christus dan die brood sy liggaam en die beker sy bloed of die nuwe Testament in sy bloed en waarom noem Paulus dit die gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: Daar is gewigtige redes waarom Christus so sê: Hy wil ons daarmee leer dat, soos brood en wyn die tydelike lewe onderhou, so voed sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as die egte voedsel en drank, ons siele vir die ewige lewe (a). Verder wil Hy ons deur hierdie sigbare tekens en waarborge veral verseker dat ons net so seker deur die werking van die Heilige Gees aan sy ware liggaam en bloed deel kry as wat ons hierdie heilige tekens met die liggaamlike mond tot sy gedagtenis ontvang (b). Hy verseker ons ook dat al sy lyding en gehoorsaamheid so seker ons eie is asof ons self in eie persoon alles gely en die skuld vir ons sondes aan God ten volle betaal het.
(a) Johannes 6:55. (b) 1 Korintiërs 10:16.
80 Vraag: Wat is die onderskeid tussen die nagmaal van die Here en die Roomse mis?
Antwoord: Die nagmaal betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al ons sondes het, ter wille van die enige offer van Jesus Christus wat Hy self eens en vir altyd aan die kruis volbring het (a), en dat ons deur die Heilige Gees in Christus ingelyf word (b), wat nou na sy menslike natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader (c) is en daar deur ons aanbid wil word (d). Die Roomse mis, daarenteen, leer dat die lewendes en die gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word. Verder dat Christus liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is en derhalwe daarin aanbid moet word. Die mis is dus 'n miskenning van die enige offer en lyding van Jesus Christus (e).
(a) Hebreërs 10:10, 12; 7:26, 27; 9:12, 25; Johannes 19:30; Matteus 26:28; Lukas 22:19. (b) 1 Korintiërs 10:16, 17; 6:17. (c) Johannes 20:17; Kolossense 3:1; Hebreërs 1:3; 8:1. (d) Matteus 6:20, 21; Johannes 4:21; Lukas 24:52; Handelinge 7:55; Kolossense 3:1; Filemon 3:20; 1 Tessalonisense 1:10. (e) Hebreërs 9:26;10:12, 14.
81 Vraag: Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?
Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes 'n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en die wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink 'n veroordeling oor hulleself (a).
(a) 1 Korintiërs 11:28; 10:19-22.
82 Vraag: Moet die mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?
Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek (a). Daarom is die Christelike kerk volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.
(a) 1 Korintiërs 11:20, 34; Jesaja 1:11; 66:3; Jeremia 7:21; Psalm 50:16.
Westminster Geloofsbelydenis 29
Die Nagmaal
1. Die nag toe Jesus verraai is, het hy die sakrament van sy liggaam en bloed, die nagmaal genoem, ingestel om in sy kerk tot aan die einde van die wêreld te vier as 'n ewige herinnering aan sy offer in die dood en as die seël van al die voordele van daardie opoffering vir ware gelowiges. Dit dui ook op die geestelike voeding en groei van gelowiges in Jesus en hul bykomende verbintenis om al die pligte wat hulle hom verskuldig is, uit te voer. Ten slotte is dit 'n band en belofte van gelowiges se gemeenskap met Jesus en met mekaar as lede van sy mistieke liggaam.1
1. 1 Korintiërs 11.23-26, 10.16-17, 21, 12.13, Matteus 26.26-27, Lukas 22.19-20.
2. In hierdie sakrament word Christus nie aan sy Vader geoffer nie, en word ook geen werklike offer vir die vergewing van sondes van lewendes of dooies gebring nie. 2 Hierdie sakrament herdenk eerder Christus se offer van Homself, deur Homself, aan die kruis. eens vir altyd, en dit bring geestelik elke moontlike lof vir daardie offer aan God. 3 Gevolglik doen die sogenaamde offer van die Rooms-Katolieke mis 'n afskuwelike onreg aan Christus se een offer, wat die enigste versoening is vir al die sondes van die uitverkorenes. 4
2. Hebreërs 9:22, 25-26, 28.
3. 1 Korintiërs 11.24-26, Matteus 26.26-27, Lukas 22.19-20.
4. Hebreërs 7.23-24, 27, 10.11-12, 14, 18.
3. By die bediening van die nagmaal het Jesus sy bedienaars opdrag gegee om sy woorde wat hierdie sakrament instel aan die gemeente te verkondig, om te bid en die brood en wyn te seën, wat so afgesonder word van hul gewone gebruik en heilig gebruik . Sy bedienaars moet die brood neem en breek, die beker neem, en (selfs ook kommunikeer) om albei aan die nagmaal te gee — maar nie aan iemand anders wat nie op daardie tydstip in die gemeente teenwoordig was nie. 5
5. Matteus 26.26-28, Markus 14.22-24, Lukas 22.19-20, 1 Korintiërs 11.23-27; sien aanhalings onder Artikels 1 en 2, Handelinge 20.7, 1 Korintiërs 11.20.
4. Praktyke wat strydig is met die aard van hierdie sakrament en met die instelling daarvan deur Christus is private mis of die ontvangs van die nagmaal alleen van 'n priester of enigiemand anders; 6 om die beker aan die gemeente te ontsê; 7 en om self die brood en wyn te aanbid d.m.v. om hulle op te lig of rond te dra vir aanbidding of om hulle vir enige vervalste godsdiensgebruik te bewaar. 8
6. 1 Korintiërs 10.6, 1 Timoteus 1.3-4.
7. Markus 4,23, 1 Korintiërs 11,25-29.
8. Matteus 15.9; daar is nie die minste voorkoms van 'n lasbrief vir enige van hierdie dinge nie, hetsy in voorskrif of voorbeeld, in enige deel van die Woord van God; sien al die plekke waar die ordonnansie genoem word.
5. Die brood en wyn in hierdie sakrament, behoorlik afgesonder vir die gebruike wat deur Christus bepaal is, hou dus verband met Hom, gekruisigde, dat hulle werklik en tog slegs sakramenteel genoem word met die naam van wat hulle verteenwoordig, dit is die liggaam en bloed van Christus. 9 Desondanks bly hulle in wese en natuur nog steeds net brood en wyn, soos voor hulle sakramentele gebruik. 10
9. Matteus 26,26-28.
10. 1 Korintiërs 11.26-28, Matteus 26.29.
6. Die leer dat die substansie van die brood en wyn verander word in die substansie van Christus se liggaam en bloed (gewoonlik genoem transsubstansiasie) deur die toewyding van 'n priester of enige ander manier is beswaarlik nie net vir die Skrif nie, maar selfs vir gesonde verstand en rede. Sulke Nagmaal-lering keer die aard van die sakrament omvêr en was en is die oorsaak van baie bygeloof en inderdaad flagrante afgodery. 11
11. Handelinge 3.21, 1 Korintiërs 11.24-26, Lukas 24.6, 39; hierdie stellings is afleidings uit die sakramenteleer en vereis nie spesifieke Skrifbewyse nie.
7. Waardige ontvangers, wat fisiek deelneem aan die sigbare stowwe van hierdie sakrament, doen dan ook deur geloof werklik en in werklikheid, maar nie fisiek of liggaamlik nie, geestelik ontvangs en voed op Christus wat gekruisig is en op al die weldade van sy dood. Die liggaam en bloed van Christus is dan nie liggaamlik of fisiek in, met of onder die brood en wyn nie; maar hulle is eintlik geestelik teenwoordig by die geloof van gelowiges in die bediening van hierdie sakrament, net soos die brood en wyn fisiek teenwoordig is. 12
12. 1 Korintiërs 11.28, 5.7-8, 10.16,3-4, Johannes 6.53,58; sien nota onder Afdeling 6 hierbo.
8. Alhoewel onkundige of goddelose manne aan die fisieke stowwe in hierdie sakrament mag deel, ontvang hulle nie wat daardeur aangedui word nie. Maar deur hulle onwaardige koms na die Here se tafel is hulle skuldig aan sy liggaam en bloed en bring hulle oordeel oor hulleself. Daarom, net soos die onkundiges en goddeloses nie geskik is om gemeenskap met Christus te geniet nie, is hulle ook nie waardig om na die Here se tafel te kom nie, en solank hulle onkundig en goddeloos bly, kan en moet hulle nie toegelaat word om deel te hê aan die heilige verborgenheid van gemeenskap sonder om 'n groot sonde teen Christus te pleeg nie. 13
13. 1 Korintiërs 11.27-29, 2 Korintiërs 6.14-16, 1 Korintiërs 10.21, 5.6-7.13, 2 Tessalonisense 3.6,14-15, Matteus 7.6.
2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die nagmaal.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More