YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 363 OF 364

Watter hoop hou die ewige lewe vir jou in? — Die belydenisskrifte

1. Lees die Apostoliese Geloofsbelydenis 11-12, Geloofsbelydenis van Nicea 11-12, Geloofsbelydenis van Athanasius 41-44, Nederlandse Geloofsbelydenis 37, Heidelbergse Kategismus 57-58 en Westminster Geloofsbelydenis 32. Wat leer jy oor die hoop van die ewige lewe? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Apostoliese Geloofsbelydenis 11-12

Ek glo aan die opstanding van die vlees en ‘n ewige lewe.

Geloofsbelydenis van Nicea 11-12

Ons verwag die opstanding van die dooies. En die lewe van die toekomstige bedeling.

Geloofsbelydenis van Athanasius 41-44

By sy koms sal alle mense, met hulle liggame, opstaan en van hulle eie werke moet rekenskap gee. En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur. Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.

Nederlandse Geloofsbelydenis 37

DIE LAASTE OORDEEL, DIE OPSTANDING EN DIE EWIGE LEWE

Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het — dié tyd is vir alle skepsels onbekend — en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Handelinge 1:11), om Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn (1 Tessalonisense 4:16). Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog sal lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in 'n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word (Openbaring 20:12) volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg (2 Korintiërs 5:10). Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het (Matteus 12:36), al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.

Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matteus 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matteus 10:32), en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Openbaring 21:4). Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as 'n beloning uit genade sal die Here self hulle so 'n heerlikheid gee as wat die hart van 'n mens nooit kon bedink nie.

Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.

Matteus 13:23; 25:13; 1 Tessalonisense 5:1-2; Matteus 24:36; Openbaring 6:11; Handelinge 1:11; 2 Petrus 3:10; Matteus 24:30; Openbaring 21:11; Matteus 25:31; Judas 1:15; 1 Petrus 4:5; 2 Timoteus 4:1; 1 Tessalonisense 4:16; 1 Korintiërs 15:51; Matteus 11:22; Markus 12:18; Matteus 23:23; Johannes 5:29; Romeine 2:5; Hebreërs 6:2; 9:27; Matteus 12:36; 2 Tessalonisense 1:5; (Hebreërs 10:27); 1 Johannes 4:17; Openbaring 14:7; Lukas 14:14; 2 Korintiërs 5:10; Openbaring 21:8; 22:12; Daniël 7; Matteus 25:41; 2 Petrus 2:9; Jesaja 25:8; Matteus 10:32; Openbaring 21:4; Jesaja 66:5; 1 Korintiërs 2:9.

Heidelbergse Kategismus 57-58

57 Vraag: Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou?

Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).

(a) Lukas 16:22; 23:43; Filemon 1:21, 23. (b) Job 19:25, 26; 1 Johannes 3:2; Filemon 3:21.

58 Vraag: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar (a), ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit — 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie — om God daarin ewig te prys (b).

(a) 2 Korintiërs 5:2, 3. (b) 1 Korintiërs 2:9.

Westminster Geloofsbelydenis 32

Die Toestand van die Mens na die Dood en die Opstanding van die Dooies

1. Na die dood ontbind die liggame van mense en keer terug tot stof, 1 maar hulle siele, wat nie sterf of slaap nie, voer 'n onsterflike bestaan en keer dadelik terug na God wat hulle geskep het. 2 Die siele van die regverdiges word dan vervolmaak in heiligheid en word opgeneem in die hoogste hemele, waar hulle die aangesig van God aanskou in lig en heerlikheid en wag op die volle verlossing van hulle liggame. 3 Die siele van die goddelose word in die hel gewerp, waar hulle in pyniging en algehele duisternis bly, afgesonder vir die groot dag van oordeel. 4 Die Skrif erken slegs hierdie twee plekke, en geen ander nie, vir siele wat van hulle liggame geskei is.

1. Genesis 3,19, Handelinge 13,36.

2. Lukas 23.43, Prediker 12.7, Filemon 1.23, 2 Korintiërs 5.6-8.

3. Hebreërs 12.23, 2 Korintiërs 5.1,6,8, Filemon 1.23, Handelinge 3.21, Efesiërs 4.10, 1 Johannes 3.2, Lukas 16.23, Romeine 8.23; sien onder figuur 2 hierbo, Openbaring 7.4,15.

4. Lukas 16.23-24, Handelinge 1.25, Judas 6-7, 1 Petrus 3.19, 2 Petrus 2.9.

2. Die wat op die laaste dag lewe, sal nie sterf nie, maar sal verander word. 5 In daardie tyd sal al die dooies opgewek word met dieselfde liggame en niks anders as dieselfde liggame wat hulle voorheen gehad het nie, alhoewel met verskillende eienskappe, wat sal vir ewig weer met hulle siele verenig wees. 6

5. 1 Tessalonisense 4:17, 1 Korintiërs 15:51-52.

6. Job 19.26-27, 1 Korintiërs 15.42-44; sien voorafgaande konteks.

3. Deur die krag van Christus sal die liggame van die onregverdige tot oneer opgewek word, maar deur sy Gees sal die liggame van die regverdige tot eer opgewek word en gemaak word volgens die voorbeeld van sy eie verheerlikte liggaam. 7

7. Handelinge 24.15, Johannes 5.28-29, 1 Korintiërs 15.42, Filemon 3.21.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die hoop van die ewige lewe.

Day 362Day 364

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More