YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 94 OF 364

Waarom hou God almal aan die wet as niemand dit volmaak kan onderhou nie? — Jeremia 17:9-10

Jeremia 17:1-13 bevat ’n paar relatief selfstandige perspektiewe op die toestand van die volk, saamgebind deur bv. die klem op die hart as sleutel in die Godsverhouding (vers 1, 5 [“terwyl sy hart van My afwyk” staan in die oorspronklike], 9, 10), God se soewereiniteit deurdat Hy die grond aan Israel gegee het en hulle ook kan gee wat hulle verdien (vers 4, 10) en die verskillende beskrywings van die volk se afvalligheid (wegdraai in vers 5,13; verlaat in vers 11, 13).

Dit is ironies dat in plaas van God se wet op hulle harte, is die sonde van Juda ingegraveer daarop. Netso is die horings van hulle altare nie meer die plek waar versoening vir hulle sondes gedoen word nie, maar waarop juis hulle sonde ingegrif is. En in die geheue van hulle kinders is die afgodsdiens afgeëts, en nie die stories van verlossing, bewaring en toewyding uit die verlede nie.

Daarom laat die Here hulle in sy toorn verdryf uit hulle land en gee dit aan ander.“Jy sal deur jou eie toedoen die grond moet laat lê.” Die geestelike bankrotskap van Juda maak hulle ook polities en ekonomies bankrot.

Geen wonder dat die nuwe verbond van Jeremia 31 juis dié toedrag van sake sal omkeer, en dat God se wet, sy woorde, op hulle harte en in hulle gedagtes geskrywe sal word. Dit sou hulle verhouding met die land ook herstel (Jeremia 32).

Die Here vervolg in vers 5 om ’n vloek te plaas op mense wat nie net hulle hartsverbintenis aan Hom verraai nie (die laaste frase van vers 5 lui letterlik so: “terwyl sy hart van My afwyk.”), maar hulle krag soek in alliansies met mense eerder as met God. Dit isoleer hulle egter en maak hulle geestelik arm. Daarteenoor sê die Here in ’n saligspreking: “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel ...” Hulle is soos bome wat by water geplant is en voorspoedig en vrugbaar is reg deur die jaar, ’n duidelike verwysing na die beskrywing van die regverdiges en die goddeloses van Psalm 1.

Dan keer die Here terug na die gesprek oor die hart en wys hoe bedrieglik die hart is, die innerlike bewussyn van die mens. Om die waarheid te sê, “wie kan hom verstaan?” Hy is ongeneeslik. Tóg gee die Here die antwoord: “Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand.” Dit regverdig die feit dat God die mens gee wat hom toekom, wat hy of sy verdien.

Verwant aan dié gedagte van verdienste, is die gedagte dat rykdom wat oneerlik verkry is nie volhoubaar sal wees nie. Dit is soos ’n fisant wat eiers probeer broei wat nie gelê is nie. Doodgewoon dwaas. Die gedeelte sluit af met ’n bevestiging dat ’n mens die Hoop van Israel tot jou skade ignoreer: Hulle: “is vir die dood opgeskryf, want hulle verlaat die Here, die bron van lewe.”

1. Wat is jou ervaring van die rol wat motiewe speel? In jou eie lewe en in dié van ander?

2. Jeremia herinner ons dat God beter weet wat in ons hart aangaan as wat ons self weet! Dit is waarom die Bybel dit as lewensnoodsaaklik beskou dat ons ons motiewe altyd toets aan God se openbaring. Ter wille van onsself! Hoe dink jy daaroor?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan om alles wat jy doen te toets aan die Woord.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Jeremia 17 met die tema: Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand.

Day 93Day 95

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More