Wie Is God?Sample
Waarom hou God almal aan die wet as niemand dit volmaak kan onderhou nie? — Eksodus 34:6-7
Moses se middelaarskap bly op die voorgrond in hoofstuk 34 waarin hy die opdrag kry om weer twee plat klippe voor te berei dat die Here die Tien Gebooie vir ‘n tweede keer daarop kan skryf. Die Here sal dan ook aan sy versoek voldoen om sy heerlikheid aan Moses van agter af ten toon te stel — Eksodus 34:1-7. Dit lei tot Moses se verdere versoek dat die Here hulle ongeregtigheid en sonde sal vergewe en hulle as God se “eiendom” sal aanneem. Die Here hernuwe daarop die verbond met die volk en gee ‘n verder twaalf voorskrifte wat hulle moet gehoorsaam, ‘n soort kultiese Twaalf Gebooie – Eksodus 34:8-27. Dit word opgevolg met ‘n beskrywing van die heerlike afloop van hierdie verbondsluiting wat ‘n verheerliking van Moses insluit. Sy gesig het geblink van die heerlikheid van die Here – Eksodus 34:28-35.
Die belydenis van God oor Homself in vers 6-7 bring die onpeilbare diepte van sy wese na vore. Ek gee my eie vertaling. God verklaar oor Homself die volgende:
“Die Here, Here, is ‘n God wat barmhartig en genadig is, stadig om kwaad te word, vol troue liefde en getrouheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar beslis niks ongestraf laat nie, wat die skuld van die vaders besoek aan kinders en kleinkinders selfs tot in die derde en vierde geslag.”
God se barmhartigheid (rǎḥûm) is al een keer genoem in die verbondsboek (Eksodus 22:27), maar hier word dit beslissend uitgebrei as ‘n beskrywing van sy wese saam met die ander aspekte wat hier genoem word. Dieselfde geld God se genade (ḥǎnnûn). Dit is al een keer genoem in die gesprek wat Josef met sy broer Benjamin gehad het (Genesis 43:29)
Die goue blom op Aäron se kop sou hierna ook God se genade en guns teenoor die volk uitbeeld (Eksodus 28:38), maar hier word genade nog helderder uitgespel as deel van sy manier van werk met sy mense, iets waarop Moses homself alreeds in sy vorige intrede vir die volk se afvalligheid beroep het (Eksodus 33:12-17).
God se troue liefde (ḥěʹsěḏ) en getrouheid (ěměṯ — dit kan ook met “waarheid” vertaal word) was ook wel op verskillende maniere al in die verlede ten toon gestel (Genesis 24:27; 33:5; 39:21; ook in die tweede gebod van die Tien Gebooie – Eksodus 20:6), maar hier word dit ook aan sy geduld (stadig om kwaad te word) gekoppel, iets wat nog nie voorheen van God gesê is nie. Dit word ook nog meer diepte gegee deur geduld aan God se barmhartigheid en genade te koppel.
Hierdie belydenis van God oor Homself is dus ‘n besondere samevatting van vorige getuienisse oor sy teenwoordigheid by mense, maar ook ‘n sterk uitbreiding daarvan wat diep inslag gevind het in die verdere teologiese besinning oor God in die Psalms. Ons sien dit in die Psalms as ‘n begronding van smeekgebede, bv. Psalm 86:15. Ons sien dit ook as ‘n begronding van lofgebede in van die lofpsalms, bv. Psalm 103:8 en Psalm 145:8.
Ons sien dié beskrywing ook in die profete as ‘n beroep op die volk tot inkeer, bv. in Joël 2:13. Ons sien ook die omgekeerde in Jona 4:2 waar Jona eintlik ‘n probleem het met dié God, maar God Hom gelukkig nie steur daaraan nie, en volgens sy wese optree en Nineve vergewe.
In Nahum 1:3 word ook met hierdie konsep gewerk, maar ook die negatiewe impak van ongehoorsaamheid uitgespel, toe Nineve uiteindelik tog verwoes word, omdat die bekering in Jona se tyd nie gehou het nie.
Vir die wat aan God dus gehoorsaam bly of word, is hierdie barmhartige en genadige beskrywing van God wonderlike goeie nuus. Hulle kan reken daarop dat die seën van God se genade deur “duisende” geslagte heen ervaar kan word.
Maar, belangrik, die basiese struktuur van die tweede gebod word steeds gehandhaaf deurdat dit nie net die barmhartigheid, genade, geduld, troue liefde en getrouheid van die Here is wat geskets word nie. Die volle impak van hierdie veelkantige fasette van sy wese word nie net gesien in die vergifnis van ongeregtigheid, oortreding en sonde nie, maar ook in die feit dat Hy niks ongestraf laat bly nie. Dit is net so ‘n fundamentele beskrywing van God reg deur die Bybel, soos ons in Numeri 14 en Nehemia 9 sien.
Ons kry by hulle dieselfde beskrywing van God se barmhartige en genadige wese. In Numeri word die sonde van die Israeliete wat die Here nie met die eerste Intog wou vertrou nie, vergewe, op grond van God se barmhartigheid en genade. Maar hulle sonde het steeds die gevolg dat hulle in die woestyn omkom. Niks bly ongestraf nie (Numeri 14:18).
Selfs in die tyd ná die ballingskap gebruik Nehemia dit nog as ‘n fundamentele beskrywing van God in hulle skuldbelydenis van die sondes van die verlede. Daar word egter – in lyn met Eksodus se beskrywing van die gevolge van die sonde – deeglik kennis geneem van die dubbele aard van God se wese, wat wel vergewe, maar niks ongestraf laat bly nie (Nehemia 9:17).
Hierdie belydenis oor God het dus ‘n impak op die geslagte, positief en negatief. Vir die gehoorsames het dit ‘n voortdurende positiewe seënende impak op die nageslag in hulle geslagte. Die omgekeerde geld vir die ongehoorsames.
Die negatiewe gevolge beteken natuurlik nie dat die kinders en kleinkinders boet vir hulle vaders en voorvaders se sonde nie, soos sommige verkeerdelik aflei uit hierdie belydenis. Die nageslag van die Israeliete het dit bv. reggekry om ná veertig jaar met die Intog die barmhartigheid van die Here te ervaar, selfs al het hulle ouers die oordeel van die Here ervaar, omdat hulle op die Here vertrou het en in gehoorsaamheid gehandel het. Vgl. bv. Esegiël 18 waar die Here kapsie maak teen enigiemand wat hierdie verkeerde idee vertroetel dat die vaders groen druiwe eet, en die kinders se tande stomp raak: “Dit is die mens wat sondig wat sal sterf. Wie wil leef volgens my wil, sal reg laat geskied en reg doen.”
Maar, dit beteken wel dat daar eers versoening en regstelling moet kom voor God se vergifnis in werking kan kom, soos Numeri se verhaal van die twee generasies onomwonde uitwys. God laat niks ongestraf nie. Die nageslagte van ongehoorsames sal dus wel die gevolge van die sonde ervaar tot daar regstelling kom. Die sonde sal as’t ware “besoek” word aan die nageslag, totdat hulle God se oordeel aanvaar en om vergifnis smeek. Omdat die tweede generasie hulle op God verlaat het in die woestyn, soos ons in Numeri gaan lees, het die Here die effek van die sonde vir hulle omgekeer en kon hulle met sy seën die beloofde land binnetrek.
Waar die geslagte dus die sondes van hulle vaders bely en kies om die Here te dien, kom wat wil, sal verandering en seën intree. Dit is soos die Here dit self voorskryf (Levitikus 26:40 — natuurlik ook met persoonlike – Levitikus 5:5 – en gesamentlike belydenis – Levitikus 16:21 — daarby ingesluit), en ons talle voorbeelde deur die Skrif het, korporatief (Numeri 21:7; 1 Samuel 7:6; 12:10; Jeremia 14:20; Daniël 9:4,20) en persoonlik (2 Samuel 24:10 en talle Psalms).
1. Wat tref jou in die teks van God se houding en optrede teenoor mense?
2. Dink na oor die impak wat dit op jou lewe sal hê as jy rekening hou beide met die feit dat God vergewe, maar ook geen sonde ongestraf laat verbygaan nie.
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan God se genade en strengheid.
4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Eksodus 34 met die tema: Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More