25 Dae tot KersfeesVoorbeeld

25 Dae tot Kersfees

DAG 17 VAN 25

Sonde is die groot skeidsmuur tussen God en die mens. Dit word beskryf as vyandskap tussen God en mens en verder as 'n geestelike dood. Met die erns en werklikheid van sonde in gedagte, kom die vraag: Maar hoe kan ons geregverdig word sodat ons met God weer 'n verhouding kan hê?

Jeremia profeteer hier. Hy sien 'n tyd wanneer dit wel sal gebeur. God gaan 'n nuwe verbond met sy volk sluit. Hy gaan die Messias vir ons stuur om dit in werking te stel. Hierdie nuwe verbond sal nie net vir 'n sekere volk wees nie, maar vir alle volke. Elkeen wat bereid is om Hom te volg, sal ingesluit word.

Hoe is dit egter moontlik dat 'n heilige en regverdige God, wat 'n straf vir sonde eis, hierdie nuwe verbond tot stand sal laat kom? Dis 'n verbond wat vryheid, genade en God se liefde vir ons, 'n werklikheid maak.

Die antwoord is dat God die Vader sy eie Seun, Jesus, in ons plek gee om vir ons sondes te sterf. Daardeur het Jesus die straf vir ons sonde op Homself geneem. 'n Heilige en regverdige God vereis straf vir sonde, 'n offer, maar die wonder is – Hy het namens ons ook 'n offer voorsien – sy eniggebore Seun, Jesus.

Jesus het die prys vir ons sonde betaal. Jesus het die oordeel van ons sonde op Homself geneem en Jesus het sodoende ons skuld weggeneem.

Verder sê die Here deur die profeet Jeremia 31:34b (NLV): "Ek sal al hulle oortredings en hulle sondes vergewe. Ek sal nooit eers weer daaraan dink nie."'

Die mooiste kerslied is nie die een wat ons nostalgies laat voel nie, dit is eerder die lied in elke kind van God se hart, want ons sing: "Ons is vry van sonde en oordeel, die Here se liefde en genade is my deel" – dit is wat Kersfees ons deel maak.

Dag 16Dag 18

Aangaande hierdie leesplan

25 Dae tot Kersfees

Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.

More

Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/