25 Dae tot KersfeesVoorbeeld
Jesus het nie sy lewe gewaag deur na die wêreld te kom nie. Hy het gekom juis om sy lewe te gee. Hy het sy lewe gegee sodat ons die ewig lewe in en deur sy sterwe en opstanding kan ontvang.
Jesus se lewe op aarde was 'n doodvonnis. Hy het dit nie vermy of probeer om daarvan te vergeet nie – Hy het met hierdie een doel gekom.
Dit is hoekom die duiwel Hom van die plan wou laat afsien (Matteus 4:1-11). Hy het selfs iemand naby aan Jesus laat afwyk, soos die dissipel Petrus, toe hy Jesus se missie op aarde verkeerd verstaan het.
Jesus het uiteindelik deur sy dood aan die kruis die vyand, dit is die duiwel, verslaan. Maar hoe? Ons sien in Hebreërs 2:14b (NLV) dat die vyand "mag oor die dood gehad het". Hierdie mag is juis dat hy ons kan laat vrees vir die dood en vir wat na die dood gebeur. Jesus het die vyand van sy mag ontneem, hom verslaan en oor hom getriomfeer.
Deur Jesus se dood het Hy ons sonde weggewas. Ons is vergewe. Daarom is ons nou buite die vyand se bereik, want hy kan nie meer veroordeling gebruik om ons skuldig te laat voel nie. Hy kan nie meer die dood gebruik om ons bang te maak nie, want nou is die lewe na die dood nie meer onseker nie. Die dood is nou maar net 'n deur waardeur elke kind van God sal gaan – as Jesus nie in ons leeftyd terugkom nie – om van die lewe na die ewigheid saam met God oor te gaan.
Daar is nou geen veroordeling van sonde meer nie. Daar is ook geen vrees vir die dood meer nie.
Jesus som sy missie so op: "Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense." Markus 10:45 (NLV).
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/