25 Dae tot KersfeesVoorbeeld
Johannes 8:37 (NLV) is 'n teks vir Kersfees al kom dit heel aan die einde van Jesus se lewe.
Jesus sê hier dat Hy "gebore is en na die wêreld toe gekom" het. Jesus se geboorte was natuurlik uniek, maar ons moet onthou Jesus het nie eers begin bestaan toe Hy op aarde gebore is nie. Hy het nog altyd bestaan. Sy koms na die aarde toe (sy geboorte wat ons met Kersfees vier), was die begin van sy tyd, lewe, bediening en uiteindelik sy verlossingswerk op aarde.
"Inkarnasie" (menswording) is die teologiese term hiervoor. Die misterie van Jesus se geboorte was nie net dat dit maagdelik was nie. Jesus het reeds voor sy geboorte bestaan. Sy geboorte was die "inkarnasie".
Jesus se oorsprong is uit die "verre verlede" volgens Miga 5:1 (NLV): "Betlehem-Efrata, jy is ’n klein dorpie in Juda. Tog sal daar uit jou vir My ’n regeerder kom wat oor Israel sal heers. Sy oorsprong is uit die verre verlede." Jesus is natuurlik net soos die ander persone in die Drie-Eenheid ewig, nie maar net baie oud nie, soos ons dikwels aan die ewigheid dink, asof dit 'n lang tyd is nie. Dat God ewig is beteken dat God, dit is al drie persone van die Drie-Eenheid, heeltemal buite tyd bestaan.
Jesus staan buite tyd. Tog is die wonder dat Hy, deur die inkarnasie, in tyd betrokke raak. Sy koms was met 'n rede en om 'n doel. Hierdie doel maak Jesus aan Pilatus bekend: "Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê. Elkeen wat lief is vir die waarheid, luister na my stem” Johannes 18"37 (NLV).
Jesus is die ewige waarheid, Hy praat die waarheid, Hy het in waarheid en vanuit liefde opgetree.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/