25 Dae tot KersfeesVoorbeeld

25 Dae tot Kersfees

DAG 25 VAN 25

Met die vorige oordenking en meegaande verse in gedagte, kom ons dink saam oor wat die geskenke is wat ons in Jesus Christus van God die Vader ontvang.

Geskenk 1: 'n Doel in hierdie wêreld

Met die verse (1 Johannes 2:1-2, 3:7-8) as fondament, gee Johannes die opdrag aan elke kind van God "En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het" (1 Johannes 3:23 NLV).

Die doel en rede vir ons bestaan hier op aarde is om in Jesus te glo. Dit is om in alles op Hom alleen te vertrou, maar eerstens vir verlossing en redding. Dan om ander lief te hê. Hierin is Jesus ons inspirasie en voorbeeld.

Vertrou op Jesus en wees lief vir alle mense. Dit gee aan jou lewe 'n doel en betekenis.

Geskenk 2: Hoop

Ons het hoop dat ons oortredinge, daardie sondes wat ons nog gereeld doen al wil ons nie, wel vergewe sal word. Dit bring hoop. Hierdie hoop strek egter verder. Ons het hoop dat ons deur Hom wat ons krag gee, al hoe meer die sonde sal oorkom. Ons word in Jesus deur God die Vader heilig geag. Dit noem ons regverdigmaking. Omdat God ons nou, in Jesus regverdig ag en verander, herskep Hy ook ons lewens om meer soos Jesus s'n te lyk. Dit noem ons heiligmaking.

Heiligmaking as 'n proses is die werk van die Heilige Gees in ons. Dit neem voortdurend toe. Dit is sy werk in ons. Dit beteken ons is die voorwerpe van sy arbeid. Dit is sy werk, nie ons s'n nie. Ons het 'n aandeel, 'n rol om te speel. Ek maak baie, baie eerder staat op 'n werk wat God doen, as enigiets wat ek sal of moet doen. Dit bring hoop.

Geskenk 3: Hulp

1 Johannes 4:4: "Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon." Die lewe voel soms soos 'n stryd. Die geveg met sonde is 'n stryd. Ons is egter verseker van ‘n oorwinning omdat God deur Jesus reeds oorwin het. Ons deel nou in Jesus se oorwinning. Hy is ons hulp in die geveg. Ons is werklik meer as oorwinnaars.

Romeine 8:37 (AFR20): "Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het."

Dag 24

Aangaande hierdie leesplan

25 Dae tot Kersfees

Hierdie 25-dag leesplan berei ons harte vir Kersfees voor — spesifiek die boodskap van Kersfees en die rede vir Kersfees — Jesus. Kersfees en die aanloop na Kersfees toe, is 'n wonderlike tyd van die jaar. Daar is opwinding, nostalgie, afwagting en vakansie in die lug. Vir elke kind van God moet hierdie dinge nie ons aandag aflei van die rede en die boodskap van Kersfees nie.

More

Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/