Die Onpopulêre JesusVoorbeeld

Die Onpopulêre Jesus

DAG 7 VAN 8

Dikwels sê ons Vader vir ons ja, gee Hy wat ons vra, vind ons wanneer ons soek, maak Hy oop wanneer ons klop. Daar is egter ook tye wanneer ons wysheid vra en dit nie kry op die manier wat ons dit wil hê nie; wanneer ons bid en dit nie lyk of God antwoord nie; wanneer ons een ding vra en God iets anders gee. Dikwels is ons dan in opstand, vol vrae en vertwyfeling en laat vaar ons projekte en opdragte wat deur die Meester aan ons gegee is. As God ja kan sê, het Hy ook die reg om nee te sê.

As ons Jesus kies, kry ons die volledige pakket. Baie van ons wil met Jesus en die Bybel werk soos kinders wat rosyntjiebrood eet – hulle haal die rosyntjies uit en los die brood. Ons wil vat waarvan ons hou, maar die res moet asseblief eenkant gehou word. Jesus is populêr wanneer daar ’n kroon ter sprake is, maar onpopulêr wanneer die kruis die kroon voorafgaan.

Markus 10:29-31: Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

Jesus Christus kan nie in ’n halwe hart woon nie. Hy moet ’n hele hart hê, anders is daar te min plek vir Hom. Behoort jou hele hart aan Hom? Christenskap is nie ’n klomp reëls en morele beginsels nie. Dit is ’n verhouding met die lewende, opgestane Jesus. Om Christen te wees is nie ’n filosofiese konsep en ’n paar moets en moenies nie.

Geestelike vryheid en vreugde kom wanneer net Jesus oorbly en Hy vir ons genoeg is.

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Die Onpopulêre Jesus

Mense hou van Jesus wanneer dit goed gaan, hulle gebede beantwoord word en dit goed gaan. Wanneer daar egter swaar tye kom, nie al hulle vrae beantwoord word nie en daar vervolging is, is Jesus nie so populêr nie. By die wêreld is Hy populêr totdat "volg My en onderwerp jou aan My" in gedrang kom, dan is Hy nie meer populêr nie.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com