Die Onpopulêre JesusVoorbeeld
Dit is onpopulêr om oor beide die hemel én die hel te praat. Hoe dikwels het Jesus nie van die hemel en van die koninkryk van die hemele gepraat nie. Die meeste mense is opgewonde oor die hemel en glo daaraan. En tog, hoe gou neem dieselfde mense nie aanstoot oor die begrip hel nie. Sommige mense wat dit maklik vind om te glo wanneer die Bybel van ’n hemel praat, vind dit moeilik om te glo dat ‘n God van liefde mense hel toe sal stuur. ’n Noukeurige studie van Jesus se woorde in die Nuwe Testament maak dit duidelik dat Hy meer oor die hel (die breë pad) as die hemel gepraat het. Waarom? Om mense op die werklikheid daarvan te wys en daarteen te waarsku (Johannes 3:36).
In baie kerke is daar mense wat aanstoot neem wanneer daar oor die hel gepraat word. “Nee,” is die versoek, “praat met ons oor Jesus en die liefde van Jesus en sy sagmoedigheid en sy omgee. Ons leef tog in ’n moderne tyd. In ons tyd is dit onvanpas om eise aan mense te stel en vir mense bevele te gee. Moenie oor die hel praat nie.” Daar is selfs kerkleiers wat nie oor Jesus in hulle prediking praat nie — o ja, geen probleem om oor God te praat nie, maar mense is geneig om “aanstoot te neem wanneer ons oor Jesus en sy kruis praat – dit is te bloederig.”
Dieselfde Bybel wat van die hemel praat, praat egter ook van die hel. As ons die een wil glo, moet ons ook die ander een aanvaar (Matteus 10:28). God verander nie om aan die eise van mense te voldoen nie, ook nie vir moderne mense nie.
Solank Jesus vir ons die ewige lewe gee, die lewe mooi maak en oorvloed gee, is Jesus populêr en is dit populêr om ’n Christen te wees. Wanneer ons by ’n “lekker” kerk aansluit en tussen ons eie mense Christene kan wees, is dit wonderlik. Wanneer ons gered word en ‘n bydrae vir behoeftiges kan maak (‘n T-hemp of ‘n paar blikkies kos), is Jesus populêr. Wanneer Jesus egter van ons vra om met ongereddes oor verlossing te praat, siele te wen, buite ons taal- en kultuurvoorkeure lief te hê en selfs saam met hulle te aanbid, neem baie aanstoot.
Geestelike vryheid, vreugde en oorwinning kom wanneer net Jesus oorbly en Hy vir ons genoeg is.
Aangaande hierdie leesplan
Mense hou van Jesus wanneer dit goed gaan, hulle gebede beantwoord word en dit goed gaan. Wanneer daar egter swaar tye kom, nie al hulle vrae beantwoord word nie en daar vervolging is, is Jesus nie so populêr nie. By die wêreld is Hy populêr totdat "volg My en onderwerp jou aan My" in gedrang kom, dan is Hy nie meer populêr nie.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com