Die Onpopulêre JesusVoorbeeld

Die Onpopulêre Jesus

DAG 1 VAN 8

Jesus word vandag steeds op baie plekke geëer. Staatsmanne haal Hom aan. Politici in talle lande woon eredienste in kerke by (veral voor verkiesings) en behoort dikwels aan ’n Christelike kerk. Sielkundiges het ’n hoë dunk van sy bergpredikasie. Humaniste verwys na sy lewe, sy omgee vir siekes, armes, verdruktes en noodlydendes. Aktiviste neem die Bybel in die hand en wys ons op sy skerp kritiek teen die bestaande orde van sy tyd. Politieke partye maak heelwat gebruik van wat Hy gesê het.

Koerantredakteurs sal maklik na grepe uit sy lewe verwys. Sekulêre skrywers sal iets oor Hom by hulle storielyn inwerk. Baie beskou Hom as ’n sagmoedige dromer, ’n onselfsugtige man met wysheid, meegevoel en liefde — ’n goeie mens en onskadelik. Hy word bewonder as iemand wat bereid was om sy lewe te gee vir sy saak. Talle idealiseer Hom.

Tog is die meeste mense baie selektief oor wat hulle oor Hom glo. Terwyl dit meestal populêr is om oor Hom te praat en na sy leringe te verwys, word Hy gewoonlik selektief en eensydig aangehaal. Staatsmanne herhaal soms sy uitsprake net sodat hulle daardeur as Christelik beskou kan word. Humanistiese sielkunde het probleme met sy siening oor sonde en die verdorwenheid van die mens. Humaniste verwys na sy lewe en goeie werke, maar lees versigtig verby gedeeltes wat handel oor ’n persoonlike verhouding met Hom en ’n heilige lewenswandel.

Aktiviste wys ons op sy skerp kritiek teen die bestaande orde en die “kerk” van sy tyd, maar wil niks weet van die ware betekenis van die kruis, Jesus se sagmoedigheid, nederigheid en sy weersin in geweld nie. Baie sekulêre skrywers sal iets oor Hom kwytraak, maar vermy bekering, wedergeboorte en totale oorgawe aan God.

Dit is ’n eeuoue verskynsel. Ons lees hoe Jesus die water in wyn verander het, siekes gesond gemaak het, kos vermeerder het en op die water geloop het. Skares “dissipels” het Hom gevolg, totdat Jesus hulle in Johannes 6:47-68 leer dat sy liggaam die ware voedsel en sy bloed die ware drank is. Toe die skare dit hoor, het hulle uitgeroep: “Wat Hy nou sê, is darem te erg! Wie kan hieraan gehoor gee?” Hulle het aanstoot geneem oor hierdie uitspraak.

Geestelike vryheid, vreugde en oorwinning kom wanneer net Jesus oorbly en Hy vir ons genoeg is.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Die Onpopulêre Jesus

Mense hou van Jesus wanneer dit goed gaan, hulle gebede beantwoord word en dit goed gaan. Wanneer daar egter swaar tye kom, nie al hulle vrae beantwoord word nie en daar vervolging is, is Jesus nie so populêr nie. By die wêreld is Hy populêr totdat "volg My en onderwerp jou aan My" in gedrang kom, dan is Hy nie meer populêr nie.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com