Die Onpopulêre JesusVoorbeeld
Wanneer Jesus ons uit ons benoudhede verlos, is dit wonderlik. Wanneer ek geld nodig het en Hy my help en daar uitkoms kom, wanneer ek siek is en God radikaal ingryp en my genees, wanneer my goed gesteel en teruggevind word, wanneer daar geen uitkoms is nie en God vir my ’n deur oopmaak, dán is Jesus populêr.
Kan ons egter soos Job reageer toe al sy vee gesteel is en al sy kinders in ’n stormwind sterf? “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” (Job 1:21-22).
Wanneer vervolging kom en dit dag na dag voortduur en ek bid en daar geen uitkoms is nie, wanneer ek siek word en genesing kom nie (ten spyte daarvan dat al wat “geloofsgeneser” is al vir my gebid het), wanneer mense nie van my hou nie omdat ek ’n Christen is en my bespot en onderdruk, ja, selfs beledig en verneder, dan is Jesus nie populêr nie. Te dikwels gebeur dit dat ons dan ’n ander pad begin loop, stilbly, nie openlik getuig of die vaandel van ons Christenskap hoog hou nie.
Min verstaan en omhels die woorde van Jesus toe Hy gesê het: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg” (Matteus 5:10-12).
Van die kragtigste instrumente in God se hand was mense wat met intense liggaamlike lyding saamgeleef het. Smith Wigglesworth, wat vir ander se genesing gebid en buitengewone wonderwerke gesien het, het dikwels self pyn en siekte gehad. David Brainerd, ’n kragtige bidder wat onder die Indiane gewerk het, het met siekte in sy liggaam rondgeloop en is uiteindelik op 29-jarige leeftyd dood. Hudson Taylor, die stigter van die China Inland Mission, het siekte, lyding, swakheid, dood en teleurstelling geken en tog voortgegaan met sy werk.
Geestelike vryheid en vreugde kom wanneer net Jesus oorbly en Hy vir ons genoeg is.
Aangaande hierdie leesplan
Mense hou van Jesus wanneer dit goed gaan, hulle gebede beantwoord word en dit goed gaan. Wanneer daar egter swaar tye kom, nie al hulle vrae beantwoord word nie en daar vervolging is, is Jesus nie so populêr nie. By die wêreld is Hy populêr totdat "volg My en onderwerp jou aan My" in gedrang kom, dan is Hy nie meer populêr nie.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com