Die Onpopulêre JesusVoorbeeld
Almal is positief oor die woord verlossing en sal Jesus Christus graag as Verlosser wou aanvaar. Wanneer Hy egter ook die Here genoem word en as Here in my lewe moet heers, is daar min wat daarvoor kans sien. Die Griekse woord vir Here is kurios, wat letterlik baas, meester of eienaar beteken. Die konteks daarvan is iemand wat regeer, die baas is, bevele gee, wat slawe as onderdane het vir wie hy opdragte kan gee en wat besitreg op die slawe het. Die vroeë Christelike kerk se eerste “geloofsbelydenis” was: Jesus is die Here (die kurios). Die woord Here kom 747 keer in die Nuwe Testament voor. Die woord Verlosser, 27 keer.
Om ’n Verlosser te hê is wonderlik, maar om ’n slaaf te wees wat aan ’n baas behoort wat bevele gee, is nie populêr nie. Jesus eis om die Here, die kurios, van ons lewe te wees. Hy wil ons nie net van sonde verlos nie, Hy wil ook die een wees wat ons wil lei (tot ons eie voordeel) en in God se volmaakte wil wil laat inpas. Dit is hieroor wat mense aanstoot neem (Jesaja 45:19).
Dit is nie moontlik om te sê Jesus is my Verlosser sonder om ook te sê Jesus is die Here nie. 1 Petrus 3:18: "Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus."
Hy mag my van my sonde verlos, maar ek wil self kies wat ek met my lewe wil doen, ek wil self my kredietkaart beheer, ek wil self my ambisies en drome bepaal en uitleef. Ek wil self besluit wat reg en verkeerd is, wat ek met my tyd gaan doen, met wie ek wil trou en watter beroep ek wil beoefen. Dit is wanneer Jesus as Here voor ons wil uitloop en die pad vir ons wil aanwys (ter wille van ons voordeel), dat Hy vinnig onpopulêr word (Matteus 16:24-25).
Jesus is populêr wanneer Hy barmhartig en genadig is. Wanneer Jesus egter as regter kom en sonde oordeel en straf en ’n heilige lewe verwag, neem baie aanstoot. Ons is dankbaar oor ons sonde wat uit genade vergewe kan word, maar nie as ons daardie sonde moet laat staan nie. Ek verwag vergifnis omdat ek met ’n ander persoon se huweliksmaat ’n verhouding het, maar ek neem aanstoot as daar van my verwag word om die verhouding met daardie persoon (ter wille van my en die ander persoon se voordeel) te breek.
Geestelike vryheid, vreugde en oorwinning kom wanneer net Jesus oorbly en Hy vir ons genoeg is.
Aangaande hierdie leesplan
Mense hou van Jesus wanneer dit goed gaan, hulle gebede beantwoord word en dit goed gaan. Wanneer daar egter swaar tye kom, nie al hulle vrae beantwoord word nie en daar vervolging is, is Jesus nie so populêr nie. By die wêreld is Hy populêr totdat "volg My en onderwerp jou aan My" in gedrang kom, dan is Hy nie meer populêr nie.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com