Die Onpopulêre JesusVoorbeeld

Die Onpopulêre Jesus

DAG 4 VAN 8

As ons lekker in die kerk kan sing en alles stigtelik en “ordelik” gaan “soos ek grootgeword het”, is dit goed, maar as iemand sy hande in die lug opsteek, ’n Engelse lied wil sing, ’n kitaar in die kerk inbring, die prediker sonder ’n das preek, daar meer gemaak word van sending in die buiteland of die Here ons roep om finansieel te gee of self na ’n sendingveld te gaan, is dit nie meer lekker nie en neem ons aanstoot. En ewe skielik is Jesus nie meer so populêr nie.

Dit is populêr as die Bybel leer dat ons mans ons moet liefhê, maar dit is baie onpopulêr as dieselfde Bybel leer dat ons onderdanig en aan ons mans gehoorsaam moet wees, want dit vra dat ons aan onsself moet sterf. Dit is nie populêr as die Woord vir mans sê om hulle vrouens so lief te hê dat hulle bereid sal wees om vir hulle te sterf nie (Efesiërs 5:21-25). Dit is goed en aangenaam as ander my vergewe vir wat ek verkeerd gedoen het, maar dit is minder aanvaarbaar wanneer Jesus van my verwag om elke dag tot sewentig maal sewe keer dieselfde persoon te vergewe wat my vertoorn en verontrief. Dit is wonderlik om Jesus te volg, maar dit is nie so aanvaarbaar wanneer Hy vir my vra om my kruis op te neem en Hom te volg nie. Die kruis gee altyd aanstoot en lei tot ’n bloederige, pynlike dood. Dit maak Jesus onpopulêr.

Wanneer Jesus ons gebede beantwoord, vir ons lewe in oorvloed gee (Johannes 10:10b), kos, klere, werk en ’n goeie posisie voorsien, reg aan ons laat geskied en dit met ons goed gaan, is Hy populêr. Wanneer ons ’n salarisverhoging kry, ’n strandhuis kan koop, ’n tweede motor kan bekostig, ons kinders goed presteer en vir ons eer bring, is Jesus gewild. Wanneer ander ons eer, ons gawes bewonder, ons bevorder word, ons mooi geskenke ontvang en mense ons waardeer vir wat ons doen, is Jesus populêr.

Ons erken dat ons foute het, maar neem aanstoot as dit sonde genoem word. Ons draai sonde in mooi woorde toe. Hoerery het saamslaap geword. Bedrog het sakevernuf geword. Leuens en wit leuentjies het verkoopstegniek geword. Wat volgens die Skrif hoogmoed is, is vir die wêreld ’n goeie selfbeeld. Wanneer my ego seerkry en ek vol selfbejammering is, gee ek ’n ander persoon se optrede as verskoning. Wanneer sonde by die naam genoem word, word Christus onpopulêr.

Geestelike vryheid, vreugde en oorwinning kom wanneer net Jesus oorbly en Hy vir ons genoeg is.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Die Onpopulêre Jesus

Mense hou van Jesus wanneer dit goed gaan, hulle gebede beantwoord word en dit goed gaan. Wanneer daar egter swaar tye kom, nie al hulle vrae beantwoord word nie en daar vervolging is, is Jesus nie so populêr nie. By die wêreld is Hy populêr totdat "volg My en onderwerp jou aan My" in gedrang kom, dan is Hy nie meer populêr nie.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com