Leesplan inligting

Meer As 'n TimmermanVoorbeeld

More Than a Carpenter

DAG 3 VAN 14

Is Ateïsme Meer Moreel?



Die Nuwe Ateïste veg ongenaakbaar teen die euwel van godsdiens en die karakter van die Bybelse God. Hulle verkondig luidkeels dat moraliteit onafhanklik van God kan bestaan. Volgens Dawkins "het ons God nie nodig om goed — of boos — te wees nie".*1 Die Nuwe Ateïste veroordeel godsdiens met entoesiasme as boos, terwyl wetenskap as goed geprys word. Dit skep egter 'n ongemaklike dilemma vir die ateïs: as daar geen God is nie, waar kom morele verpligtinge in die eerste plek vandaan? As daar "niks buiten die natuurlike, fisieke wêreld is nie,'*2 soos Dawkins verkondig, wat beteken dit dan om te sê dat boosheid bestaan? Aangesien morele waardes nie fisieke eienskappe soos hoogte, breedte en gewig het nie, hoe kan ons sê dat hulle 'n werklikheid is?



Die probleem met ateïsme is dat dit baie moeilik is om boosheid te definieer sonder een of ander bonatuurlike morele standaard vir goedheid. Boos word tradisioneel gesien as die verdraaiing van goedheid. Net soos kromheid aan 'n standaard van 'n reguit lyn gemeet word, impliseer boosheid dat daar 'n standaard van goedheid is. C. S. Lewis is bekend daarvoor dat hy gesê het dat 'n mens nie 'n stok krom kan noem as jy nie 'n idee het hoe 'n reguit stok lyk nie. Op dieselfde manier kan daar slegs boosheid wees as daar eers goedheid was. As daar egter geen God is nie (soos die Nuwe Ateïste verkondig), wat is goedheid dan? Selfs die afgestorwe ateïs J. L. Mackie het besef dat objektiewe morele waardes waarskynlik nie na vore kan kom sonder 'n almagtige God nie.



Die bestaan van objektiewe morele standaarde is 'n goeie rede om in God te glo. Oorweeg hierdie eenvoudige argument:



1. Indien objektiewe morele waardes bestaan, moet God bestaan.

2. Objektiewe morele waardes bestaan.

3. Daarom moet God bestaan.



Ons weet dat objektiewe morele standaarde bestaan. Ons hoef nie oortuig te word dat dit verkeerd is om babatjies vir die pret te martel nie. Alle redelike mense weet dit. Daarom, siende dat morele waardes bestaan, moet God ook bestaan.



Christopher Hitchens het gereeld in sy openbare debatte sy teenstaanders uitgedaag om 'n enkele voorbeeld te gee van 'n morele daad wat ateïste nie kan doen nie. Natuurlik is daar nie een nie. Baie ateïste is gawe, liefdadige en hardwerkende mense. Hitchens se uitdaging kort egter dié belangrike punt: hoe kan ateïsme in die eerste plek sin maak van morele verpligtinge? As daar geen God is nie, hoe kan ons die basis van boosheid en goedheid vind? Ateïsme spreek nie hierdie kwessie aan nie. Ironies genoeg is die mees algemene besware teen God een van die beste redes om in Hom te glo.



1. Richard Dawkins, The God Delusion, tweede uitgawe. met voorwoord (New York: Mariner Books, 2008), 258.

2. Ibid., 35.
Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

More Than a Carpenter

Is Jesus werklik die Here wat Hy beweer het Hy is? In hierdie twee weke lange oordenking sal jou denke geprikkel word deur insigte vanuit die moderne klassieke boek, "More Than a Carpenter". Jy sal oor belangrike argumen...

More

Baie dankie aan Josh McDowell, Sean McDowell, en Tyndale House Uitgewers wat inhoud verskaf het wat aangepas is uit "More Than a Carpenter". Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.josh.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid