21 Dae Vas en GebedVoorbeeld
Kinders van God bevind hulle in hierdie wêreld in die middel van ’n oorlog, ’n innerlike stryd. Dit is die stryd tussen gees en vlees – die dinge wat die Here se wil vir ons is, en die dinge wat ons sondige geaardheid na neig.
As gelowiges is ons verlos van sonde en oordeel (Rom 8:2), ons sonde is vergewe (Ef 1:7), ons is kinders van God (Joh 1:12), ons het die ewige lewe (1 Joh 5:11) en daarmee saam elke ander voordeel wat daar is om kind van God te wees. Maar die daaglikse stryd tussen gees en vlees, laat ons na sonde neig. Ons liggame het natuurlike aptyte en begeertes. Sonde probeer daardie aptyte stuur na wat teen die wil van God is. Daarteen moet ons aanhou veg.
Ons voer nie hierdie geveg met ons vuiste nie maar op ons knieë in gebed en in afhanklikheid van die Here. Dit klink nie na goeie nuus nie, maar dit is! Want, ons het in ons verhouding met Hom elke voordeel wat ek reeds genoem het. Ons het die Gees van God in ons wat die oorwinning verseker (Rom 8). Gedurende vastydperke soos hierdie een-en-twintig dae van vas en gebed, kan jy soos jy jou verdiep en versterk in jou verhouding met die Here, ervaar hoe die gees oorhand kry oor die vlees in jou lewe. Hoe die dinge van die Here sterker trek as aardse aptyte.
Aangaande hierdie leesplan
Hallo Kerk, Centurion, se 21-dae-vas-en-gebedleesplan wil jou aanmoedig om jou verhouding met die Here te verdiep en versterk. Jy sal meer leer oor vas (Wat is vas? Hoekom vas ons? Wat is die voordele van vas?), en dit sal jou ook help om jou gebedslewe te verdiep. Die leesplan bestaan uit kort dagstukke en Skriflesings vir elke dag. Om ons te kontak besoek gerus: www.hallokerk.co.za
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/