21 Dae Vas en GebedVoorbeeld
Ek merk in hierdie gedeelte ’n patroon wat in Jesus se bediening gesien kan word, naamlik 1) bedien mense, 2) spandeer alleentyd met die hemelse Vader en 3) bedien mense. Jesus het alleentyd met Sy Vader ’n prioriteit gemaak. Ons kan sê dit was die fontein van Sy bediening.
Daar behoort ook so ’n alleentyd in ons lewens te bestaan. Dit word dikwels "stiltetyd" genoem. Persoonlik hou ek nie baie van die term "stiltetyd" nie, want tyd saam met die Here hoef nie stil te wees nie. Dit kan gevul word met lof en aanbidding, gebed en Sy Woord.
Ek wonder of ons nie soms sukkel met toegewyde alleentyd met die Here omdat ons ongemaklik is nie. Ons is gemaklik tussen mense en met die publieke beeld wat ons uitstraal, maar voel ongemaklik wanneer dit by selfondersoek kom. Hoewel ons selfvertroue projekteer, word ons in ons alleenwees voor die Here bewus van hoe broos en afhanklik ons werklik van Hom is. Ons konsentrasiespan word al korter weens die druk waaronder ons leef. Ook kan ons besig en tussen ander mense wees, maar terselfdertyd alleen, leeg en verlangend voel.
Sonder alleentyd met die Here – of ons dit nou stiltetyd of die Engelse "devotions" noem – is dit onmoontlik om ’n diep geestelike lewe te beleef. Ons het alleentyd met die Here nodig waar ons Hom ons alles – al ons aandag, sorge, kommer, onsekerheid, eensaamheid, ens. – gee.
God die Vader het Sy Seun gegee om met ons ’n verhouding te hê. Hy verlang daarna om ’n verhouding met ons te hê. Dit is tydens ons alleentyd met Hom waar ons ’n verhouding met Hom ontwikkel, genesing beleef, lering ontvang en Sy leiding verkry.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hallo Kerk, Centurion, se 21-dae-vas-en-gebedleesplan wil jou aanmoedig om jou verhouding met die Here te verdiep en versterk. Jy sal meer leer oor vas (Wat is vas? Hoekom vas ons? Wat is die voordele van vas?), en dit sal jou ook help om jou gebedslewe te verdiep. Die leesplan bestaan uit kort dagstukke en Skriflesings vir elke dag. Om ons te kontak besoek gerus: www.hallokerk.co.za
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/