21 Dae Vas en GebedVoorbeeld

21 Dae Vas en Gebed

DAG 21 VAN 21

Die woord wat vir kerk gebruik word in die Nuwe Testament is ’n leenwoord. Dit het voorheen eenvoudig beteken om saam te kom of bymekaar te kom. Die Griekse woord is "ekklesia" en word so gebruik in Handelinge 7:38 en 19:32.

Om bymekaar te kom was ’n fundamentele deel en aktiwiteit van die kerk. Die skrywer van die brief aan die Hebreërs waarsku mense om nie die kerk en veral kerkbyeenkomste te verwaarloos nie. Nie vir die kerk se ontwil nie, maar vir hulle eie ontwil. Daar is vyf waarskuwings in Hebreërs wat almal dui op die gevaar om van die geloof weg te dryf. Dit begin altyd met wegdryf van die kerk. Hieroor is die skrywer geweldig bekommerd.

Daar word baie metafore vir die kerk gebruik in die Nuwe Testament. Dit sluit in familie (1 Tim. 6:1-2), die bruid van Christus (Efe 5:24-27), die liggaam van Christus (1 Kor 12:22-27), die huishouding van die Here (Heb 3:6), ens. Al hierdie metafore het iets in geneem, en dit is dat elkeen ’n rol en plek het. Jy het ander gelowiges nodig en hulle vir jou.

Die kern van ’n kerk se aard is om bymekaar te kom. Dit is duidelik uit die taal van die Nuwe Testament. Elkeen in ’n familie het ’n plek en rol. Ons word as deel van die bruid van Christus deur die Heilige Gees voorberei vir Hom. Ons kan net as deel van die liggaam funksioneer as ons ons plek vind en volstaan. Ek en jy het in die huis van die Here 'n tuiste. Dít is wat kerk is.

Daar is deelnemers en toeskouers by ’n sportwedstryd, maar in ons kerklewe behoort daar net deelnemers te wees. Wees ’n aktiewe lidmaat van jou gemeente.

Ek wil jou aanmoedig om, by watter kerk of gemeente die Here jou ook al geplaas het, die byeenkomste, dienste en kerkaktiwiteite ’n prioriteit te maak. Dit is vir jou eie beswil; nie vir die kerk s'n nie.

Dag 20

Aangaande hierdie leesplan

21 Dae Vas en Gebed

Hallo Kerk, Centurion, se 21-dae-vas-en-gebedleesplan wil jou aanmoedig om jou verhouding met die Here te verdiep en versterk. Jy sal meer leer oor vas (Wat is vas? Hoekom vas ons? Wat is die voordele van vas?), en dit sal jou ook help om jou gebedslewe te verdiep. Die leesplan bestaan uit kort dagstukke en Skriflesings vir elke dag.  Om ons te kontak besoek gerus: www.hallokerk.co.za

More

Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/