21 Dae Vas en GebedVoorbeeld

21 Dae Vas en Gebed

DAG 19 VAN 21

Adam en Eva het nadat hulle in die tuin van Eden gesondig het vir God weggekruip. So asof ’n mens vir God kan wegkruip. Hy is alwetend en alomteenwoordig; ons kan nooit vir Hom wegkruip nie.

Die verstommende ding is dat God na Adam en Eva gaan soek het. Hy het na hulle geroep. Sy roep was nie kwaad nie al is dit hoe ons dit soms lees of interpreteer. God het met Adam en Eva gepraat oor hulle oortreding en daar was ’n oordeel as gevolg daarvan. Die tragedie was dat deur Adam en Eva sonde in die wêreld gekom het. Sonde is die toestand waarbinne die mensdom sonder Jesus verkeer.

Sien raak dat God na Adam en Eva geroep het omdat Hy met hulle ’n verhouding wou hê. Hy het hulle gesoek en die verhouding waarin hulle voor die oortreding van Genesis 3 was, gemis. Daardie selfde roep eggo reg deur die eeue en kan vandag nog gehoor word. Ons hoor God roep in die verlore seun se vader wat soekend op hom wag. Ook hoor ons dit in die goeie herder wat nege-en-negentig skape los om die een verlore skaap te gaan soek (as jy na ’n verlore skaap soek, loop en roep jy). Ons sien dit in die vrou wat haar verlore muntstuk soek en dit met blydskap vier wanneer sy dit kry (Luk 15).

Ons hoor vandag nog daardie roepstem van God. Hy roep na my en jou, want Hy wil ’n verhouding met ons hê. Hy soek met dieselfde dringendheid en gesindheid as die verlore seun se pa, die herder wat na sy verlore skaap soek en die vrou wat haar muntstuk wil vind.

1 Korinthiërs 1:9 dui juis aan dat God ons tot ’n verhouding roep. Ons vertolk daardie roepstem soms verkeerdelik as ’n verlange of ’n soeke na aansien of dinge of iets dergeliks. Kom ons raak stil en erken weer die Here se roep, daardie innerlike trek wat ons het, en reageer daarop. As jy die Here nog nie voluit dien nie, tree in ’n verhouding met Hom. En as jy die Here reeds dien, verskerp jou toewyding aan Hom.

Dag 18Dag 20

Aangaande hierdie leesplan

21 Dae Vas en Gebed

Hallo Kerk, Centurion, se 21-dae-vas-en-gebedleesplan wil jou aanmoedig om jou verhouding met die Here te verdiep en versterk. Jy sal meer leer oor vas (Wat is vas? Hoekom vas ons? Wat is die voordele van vas?), en dit sal jou ook help om jou gebedslewe te verdiep. Die leesplan bestaan uit kort dagstukke en Skriflesings vir elke dag.  Om ons te kontak besoek gerus: www.hallokerk.co.za

More

Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/