21 Dae Vas en GebedVoorbeeld
Wanneer ons bid, eindig ons ons gebed met die woorde "in die Naam van Jesus". Wat beteken dit? Behoort ons dit te doen? Ja, Jesus wil hê dat ons in Sy Naam moet bid. Die Woord van God is duidelik daaroor.
Die gebruik het in die antieke tyd ontstaan dat ’n boodskapper van ’n koning homself aankondig of voorstel as iemand wat "in die naam van die koning" kom. Dit beteken hy kom in die gesag en outoriteit van die koning en tree op as die koning se verteenwoordiger. Iemand wat in die naam van die koning gekom het, moes nie net as die gestuurde van die koning geag word nie. Hy moes ook soos die koning ontvang en behandel word.
Ons het die voorreg om in die Naam van Jesus te bid. Dit beteken ek en jy kan tot God die Vader nader in Jesus se Naam. Ons nader tot God in gebed as mense wat deur Jesus gestuur is en dus ook Sy posisie of outoriteit het.
Om in die Naam van Jesus te bid is nie ’n formule wat ons aan die einde van ’n gebed aanplak nie. Dit is ’n verwoording van die realiteit en waarheid dat kinders van God in Jesus dieselfde aansien en vrymoedigheid het as Jesus self.
Onthou hierdie waarheid: Jesus was God die Vader se eniggebore Seun en word so genoem en voorgestel. Ná Jesus se dood en opstanding, word Hy die eersgebore Seun van God genoem omdat die Bybel ons leer dat ons ook nou kinders van God is!
Ek en jy is kinders van God. Ons kan tot God nader soos kinders na hulle pa toe kom. Dit is alles moontlik gemaak deur Jesus.
Vir verder studie sien Romeine 8:14-17, Galasiërs 3:26 en Efesiërs 1:5.
Aangaande hierdie leesplan
Hallo Kerk, Centurion, se 21-dae-vas-en-gebedleesplan wil jou aanmoedig om jou verhouding met die Here te verdiep en versterk. Jy sal meer leer oor vas (Wat is vas? Hoekom vas ons? Wat is die voordele van vas?), en dit sal jou ook help om jou gebedslewe te verdiep. Die leesplan bestaan uit kort dagstukke en Skriflesings vir elke dag. Om ons te kontak besoek gerus: www.hallokerk.co.za
More
Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/