21 Dae Vas en GebedVoorbeeld

21 Dae Vas en Gebed

DAG 8 VAN 21

Ons fokus verskuif nou van vas na gebed. Net soos met vas, veronderstel Jesus in die Bergpredikasie en spesifiek in die aanloop na die Ons Vader-gebed dat ons sal bid. Hy sê in hierdie gedeelte "wanneer jy bid" (6a) en "wanneer julle bid" (7a). Hy sê nie "as jy/julle bid nie" maar "wanneer jy/julle bid". Elke kind van God sal dus bid.

Dit maak natuurlik perfek sin, want die wonderlike voorreg van die Boodskap van Jesus (die Evangelie) is dat ons ’n verhouding met God die Vader, Sy Seun Jesus en ook die Heilige Gees kan hê. Kommunikasie is essensieel tot elke verhouding. Gebed is ons primêre kommunikasie met God, soos wat Sy Woord Sy primêre kommunikasie met ons is.

Kom ons hou ook die wonder van gebed in gedagte.Gebed vereis geen spesiale kennis of ondervinding nie. Ons, eenvoudige mense, kan met God die Almagtige praat en kommunikeer. Die vermoë om met die Skepper te kommunikeer, is wat mense van die res van die skepping onderskei. Ons is geestelike wesens wat na die beeld van God geskape is.

Gebed verdiep ons verhouding met die Here. Hoe meer ons bid, hoe nader groei ons aan Hom en hoe beter verstaan ons Wie Hy is. Deur gebed antwoord God ons, Hy gee aan ons rigting en leiding, en skenk ons die krag om versoeking en misleiding te weerstaan. Ons sien deur gebed al hoe duideliker wat die Here se wil is en onderwerp ons s'n aan Syne. Gebed nooi die Heilige Gees opnuut in ons lewens in en maak ons meer en meer soos Jesus.

Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

21 Dae Vas en Gebed

Hallo Kerk, Centurion, se 21-dae-vas-en-gebedleesplan wil jou aanmoedig om jou verhouding met die Here te verdiep en versterk. Jy sal meer leer oor vas (Wat is vas? Hoekom vas ons? Wat is die voordele van vas?), en dit sal jou ook help om jou gebedslewe te verdiep. Die leesplan bestaan uit kort dagstukke en Skriflesings vir elke dag.  Om ons te kontak besoek gerus: www.hallokerk.co.za

More

Ons wil graag Lewende Woord Midrand bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.hallokerk.co.za/