HerskepVoorbeeld

Transformed

DAG 7 VAN 36

Verandering Vereis Dat jy 'n Keuse Maak

Deur Rick Warren

“Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word” (Efesiërs 4:22).

Verandering vereis keuses. Jy kan nie net oor verandering droom nie. Jy kan nie net verandering begeer nie. Om regtig te verander, moet jy 'n besluit neem. Jy moet kies om te verander.

Verandering is doelbewus: gaan jy oor ses maande anders wees? Gaan jy oor 'n jaar beter wees as nou? Gaan jy gesonder, sterker en meer volwasse wees? Gaan jy gelukkiger wees? Gaan jy minder skuld hê? Gaan jy meer wees soos God wil hê jy moet wees?

Ek kan nou dadelik vir jou die antwoord gee: dit sal net gebeur as jy kies om te verander, want dit gaan nie per toeval gebeur nie. Ek wil hê jy moet oor tien jaar beter wees as nou, maar dit gaan nie so wees as jy nie kies om anders te wees nie.

Dit vereis 'n keuse.

Baie keer dink ons dat ons vir God kan wag om ons te verander. Nee. Jy wag nie vir God nie. God wag vir jou! Hy wag vir jou om te sê: "Ja, Here, ek is gewillig om hierdie veranderings te maak.”

Ons moet doelbewuste keuses maak om te kan groei. Groei vind nie plaas sonder verandering nie, daar is geen verandering sonder verlies nie en daar is geen verlies sonder pyn nie. Indien jy gaan groei, moet jy verander en verandering beteken jy moet van sommige ou goed ontslae raak sodat jy nuwe dinge kan aangryp.

Dis soos om op 'n sweefstok te swaai: vir die sweefstokkunstenaar om van een lat na die volgende te swaai, moet hy uitreik om die ander een te gryp. Hy moet egter die een los om die ander een te gryp, of anders gaan hy nie aan die anderkant kom nie. Wat gebeur as hy dink hy kan aan altwee vashou? Hy hang in die middel en moet altwee los en op die veiligheidsnet onder hom val.

As jy in die middel vasgevang is gaan jy val omdat jy nie van jou ou gedragspatrone, ou gewoontes en ou denkwyses ontslae geraak het nie. Jy moet ontslae raak van jou ou maniere.

Die Bybel sê: “Los julle ou manier van lewe” (Efesiërs 4:22 DB). Met ander woorde, raak daarvan ontslae. Daardie ou gewoontes, ou seerkry, ou gedragspatrone en ou sondes in jou lewe — los dit. Die Bybel sê ons moet dit van ons af weggooi en vertrou dat dit God is "wat die gewilligheid en die vermoë in julle bewerk om te handel volgens wat Hy graag wil hê!" (Filippense 2:13b NLV).

Luister na die onderrig

 

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Transformed

Wil jy alles word wat God bedoel het jy moet wees? Jy kan, maar nie in jou eie krag nie. As jy elke nuwe jaar soos die meeste mense is, het jy probeer om positiewe veranderinge aan te bring en dan moed verloor en teruggeval op jou ou vernietigende gewoontes. Hier is nou goeie nuus: met God se hulp kan jy op elke terrein van jou lewe positiewe veranderinge aanbring en daarmee volhou. Laat toe dat pastoor Rick jou wys hoe jy die beloftes in die Woord van God kan ontsluit en sy instruksies volg wat jou lewe op sewe belangrike terreine van binne-af sal herskep.

More

Baie dankie aan pastoor Rick Warren van "Daily Hope" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: pastorrick.com