HerskepVoorbeeld
Elke Christen is 'n Priester
Deur Rick Warren
“Laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom” (1 Petrus 2:5a AFR53).
God sê dat jy 'n priester is. Afhangende van jou agtergrond mag dit vreesaanjaend of verwarrend wees. Petrus sê dat die twee voordele wat priesters het nou vir elke gelowige beskikbaar is.
In die Ou Testament het priesters twee dinge gedoen:
1. Hulle het die reg, voorreg en verantwoordelikheid gehad om direk na God te gaan. Hulle kon tot God bid en met Hom praat, Hom aanbid en gemeenskap met Hom hê. Alle ander mense moes deur 'n priester na God gaan.
2. Die priester het die voorreg en verantwoordelikheid gehad om God teenoor die mense te verteenwoordig en om in die behoeftes van ander mense te voorsien (om hulle te dien).
Hierdie twee dinge is in werklikheid waar omtrent jou wanneer jy 'n gelowige word.
Jy het nou direkte toegang tot God. Jy hoef nie deur iemand anders te bid nie. Jy hoef nie deur iemand anders te bely nie. Jy hoef nie deur iemand anders gemeenskap met God te hê nie. Jy kan jou Bybel lees, met die Here praat en direkte gemeenskap met Hom hê.
Die Bybel sê, toe Jesus aan die kruis gesterf het, was daar 'n gordyn in die tempel wat die Allerheiligste deel, waar God se Gees was, afgeskort het van waar die mense was. Net priesters kon een keer 'n jaar agter die gordyn ingaan. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het God die gordyn — omtrent 21 meter — van bo tot onder geskeur om as simbool te dien van die skeiding wat verwyder is.
Jy het ook die gawe om ander mense te dien. Elke Christen is 'n priester — nie 'n pastoor/predikant/dominee nie, maar 'n dienaar. Enige tyd wanneer jy jou talente en gawes gebruik om ander te help, is jy 'n dienaar.
“Hy het ons verlos en geroep met 'n heilige roeping – nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en genade” (2 Timoteus 1:9a AFR20). Hoekom het God jou gered? Sodat jy Hom kan dien. 'n Christen wat nie ander mense dien nie is 'n teenstrydigheid.
Hoe weet jy wat jou bediening is? Kyk na jou talente, gawes en vermoëns. Wanneer jy daardie talente en gawes gebruik om ander mense te help, word dit 'n bediening genoem — daar is niks deftig of vreesaanjaend daaromtrent nie. Jy help net ander. Kan jy 'n priester wees in 'n verkoopskantoor? Jy kan beslis. Kan jy 'n priester wees as 'n boekhouer? Natuurlik. 'n Trokdrywer? Verseker. Enige tyd wanneer jy ander in die Naam van God help, dien jy.
Luister na die onderrig |
Aangaande hierdie leesplan
Wil jy alles word wat God bedoel het jy moet wees? Jy kan, maar nie in jou eie krag nie. As jy elke nuwe jaar soos die meeste mense is, het jy probeer om positiewe veranderinge aan te bring en dan moed verloor en teruggeval op jou ou vernietigende gewoontes. Hier is nou goeie nuus: met God se hulp kan jy op elke terrein van jou lewe positiewe veranderinge aanbring en daarmee volhou. Laat toe dat pastoor Rick jou wys hoe jy die beloftes in die Woord van God kan ontsluit en sy instruksies volg wat jou lewe op sewe belangrike terreine van binne-af sal herskep.
More