HerskepVoorbeeld

Transformed

DAG 18 VAN 36

God se Doel is jou Karakter, nie jou Gemak nie

Deur Rick Warren

“Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig” (Efesiërs 4:22-24).

Baie godsdienste en New Age filosofieë hang die ou leuen aan dat ons goddelik is of soos gode kan word. Kom ek stel dit nou onomwonde: Jy sal nooit God kan wees of selfs 'n god nie.

Daardie trotse leuen is die Satan se oudste versoeking. Die Satan het vir Adam en Eva belowe, indien hulle sy raad sou volg, hulle "soos gode" sou word (Genesis 3:5).

Hierdie begeerte om 'n god te wees, gebeur elke keer wanneer ons probeer om ons eie omstandighede, toekoms en die mense om ons te beheer. Ons as skepsels, sal nooit die Skepper wees nie. God wil nie hê dat jy 'n god moet word nie; Hy wil hê jy moet godvresend word deur sy waardes, gesindhede en karakter aan te neem. Ons is bedoel om 'n nuwe lewe te leef — 'n heilige lewe, 'n lewe wat van binne-af nuut gemaak word en in wie God sy karakter kan inbou (Efesiërs 4:22-24).

God se uiteindelike doel vir jou lewe op aarde is nie gemak nie, maar karakterontwikkeling. Hy wil hê jy moet geestelik groei en soos Christus word. Dit beteken nie dat jy jou persoonlikheid verloor of 'n verstandlose kloon word nie.

God het jou uniekheid geskape, dus wil Hy dit nie vernietig nie. Om soos Christus te word behels dat jou karakter verander, nie jou persoonlikheid nie.

God wil hê dat jy die soort karakter ontwikkel wat in die saligsprekinge beskryf word, die vrug van die Gees asook Petrus se lys van karaktereienskappe van 'n effektiewe en vrugdraende lewe (Matteus 5:1-12; Galasiërs 5:22-23; 1 Korintiërs 13; 2 Petrus1:5-8).

Elke keer wanneer jy vergeet dat karakter een van God se doelwitte vir jou lewe is, sal jou omstandighede jou frustreer. Jy sal wonder: “Hoekom gebeur dit met my? Hoekom sukkel ek so?” Een antwoord is, dat die lewe veronderstel is om moeilik te wees! Dit help jou om te groei. Onthou, die aarde is nie die hemel nie.

Baie Christene verstaan Jesus se belofte van 'n "voorspoedige lewe" (Johannes 10:10) verkeerd. Hulle dink dit beteken 'n gemaklike lewenstyl, perfekte gesondheid, voortdurende geluk, vervulling van al jou drome en oombliklike oplossing van probleme deur geloof en gebed.

Met ander woorde, hulle verwag dat die Christelike lewe maklik sal wees. Hulle verwag hemel op aarde.

Hierdie selfbehepte perspektief behandel God as 'n towenaar wat eenvoudig bestaan om jou te dien in jou selfsugtige strewe na persoonlike vervulling. God is egter nie jou dienaar nie en as jy dink dat die lewe veronderstel is om maklik te wees, sal jy óf erg ontnugter word óf jy sal in ontkenning van die werklikheid leef.

Moet nooit vergeet dat die lewe nie oor jou gaan nie! Jy bestaan vir God se doelwitte en nie andersom nie. Hoekom sal God vir jou hemel op aarde gee indien Hy die ware Jakob vir jou in die ewigheid beplan het? God gee vir ons tyd op aarde om ons karakter te ontwikkel en te versterk vir die hemel.

Luister na die onderrig

 

Dag 17Dag 19

Aangaande hierdie leesplan

Transformed

Wil jy alles word wat God bedoel het jy moet wees? Jy kan, maar nie in jou eie krag nie. As jy elke nuwe jaar soos die meeste mense is, het jy probeer om positiewe veranderinge aan te bring en dan moed verloor en teruggeval op jou ou vernietigende gewoontes. Hier is nou goeie nuus: met God se hulp kan jy op elke terrein van jou lewe positiewe veranderinge aanbring en daarmee volhou. Laat toe dat pastoor Rick jou wys hoe jy die beloftes in die Woord van God kan ontsluit en sy instruksies volg wat jou lewe op sewe belangrike terreine van binne-af sal herskep.

More

Baie dankie aan pastoor Rick Warren van "Daily Hope" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: pastorrick.com