HerskepVoorbeeld

Transformed

DAG 17 VAN 36

Wees Entoesiasties Saam met God

Deur Rick Warren

“Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here. Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in die gebed nie” (Romeine 12:11-12 NLV).

Om jou doelwitte te kan bereik, moet jy uitwerk hoe om jou entoesiasme op die lange duur te behou.

Ralph Waldo Emerson het gesê: “Sonder entoesiasme kan jy nie iets beduidends bereik nie.” Ek glo dit ten volle. Dis waar in my lewe. Jy moet passievol wees, jy moet entoesiasties wees, anders gaan jy nooit die wenpaal behaal nie.

Die meeste mense beskou my as 'n entoesiastiese persoon, en ek is een. Ek was egter nie net vir 'n week of 'n maand entoesiasties nie. My entoesiasme het nog nie getaan oor 'n jaar, of vyf of tien nie. Ek was deurentyd entoesiasties oor die doelwitte wat ek meer as 30 jaar gelede vir myself gestel het.

Hoe doen 'n mens dit? Hoe bly jy dag na dag entoesiasties ten spyte van oponthoude, moeilikhede, doodloopstrate, druk en kritiek? Hoe bly jy vir meer as 30 jaar entoesiasties?

Positiewe denke is nie genoeg nie. Om jouself te probeer regruk is nie genoeg nie. Om met jouself te praat is nie genoeg nie.

Die manier om vir 'n leeftyd entoesiasties te bly, is opgesluit in die woord "entoesiasme". Die woord "entoesiasme" kom van die Griekse frase "en theos". "En" is die Griekse woord vir die Afrikaanse woord “in”. "Theos" is die Griekse woord vir “God.” "Theos" beteken dus "in God”.

Wanneer jy "in God" is, sal jy entoesiasties wees. Dis 'n soort entoesiasme wat nie deur die ekonomie, die weer, of jou omstandighede beïnvloed word nie. Dis vir ewig, want jy is aan die ewige God verbind. Jy is in Christus.

In Romeine 12:11-12 sê Paulus vir ons hoe om dit te doen: “Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here. Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in die gebed nie” (NLV).

As jy hierdie jaar jou doelwitte wil bereik, moet jy God se krag kry deur jou in die hoop te verbly, vas te staan in verdrukking en in gebed te volhard.

Bid vandag hierdie gebed: “Hemelse Vader, ek wil nie nog 'n dag in my lewe deurmaak sonder U wat my hele hart beheer nie. Ek gee my liggaam as 'n offer aan U. Ek wy myself aan U toe. In die lig van alles wat U vir my gedoen het, gee ek myself as 'n lewende offer aan U, as 'n geestelike daad van aanbidding."

"Ek erken nederig dat ek hulp nodig het. Ek vra U om my te help om my denke te vernuwe. Help my om te dink soos U wil hê ek moet dink. Vergewe asseblief my trots. Ek wil nie meer van myself dink as wat ek moet nie. My geloof moet groei en ek het u hulp nodig om doelwitte te stel wat gemeet kan word, sodat ek hulle kan bestuur. Vergewe my dat ek op my eie probeer verander het."

"Ek wil my lewe met liefde vul. Ek wil my lewe met U vul. Help my om groepsondersteuning te kry. Help my om ander te respekteer en daarop te konsentreer om my lewe te gee sodat U na my behoeftes kan omsien. Ek wil my entoesiasme behou deur in U te bly. Help my om my in die hoop te verbly, vas te staan in verdrukking en in gebed te volhard. Ek gee myself aan U. Ek bid dit in u Naam. Amen.”

Luister na die onderrig

 

Dag 16Dag 18

Aangaande hierdie leesplan

Transformed

Wil jy alles word wat God bedoel het jy moet wees? Jy kan, maar nie in jou eie krag nie. As jy elke nuwe jaar soos die meeste mense is, het jy probeer om positiewe veranderinge aan te bring en dan moed verloor en teruggeval op jou ou vernietigende gewoontes. Hier is nou goeie nuus: met God se hulp kan jy op elke terrein van jou lewe positiewe veranderinge aanbring en daarmee volhou. Laat toe dat pastoor Rick jou wys hoe jy die beloftes in die Woord van God kan ontsluit en sy instruksies volg wat jou lewe op sewe belangrike terreine van binne-af sal herskep.

More

Baie dankie aan pastoor Rick Warren van "Daily Hope" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: pastorrick.com