HerskepVoorbeeld
Vul jou Lewe met Liefde
Deur Rick Warren
“Moenie veins dat jy ander liefhet nie; doen dit uit jou hart. Haat alles wat verkeerd is; kies kant vir wat goed is. As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer” (Romeine 12:9-10 NLV).
Indien jy standhoudende verandering in jou lewe wil hê, moet jy jou lewe met liefde vul.
Net liefde kan wat onveranderbaar is, vernuwe. Liefde verkwik. Liefde bring nuwe lewe. Liefde maak nuut. Liefde maak vars. Liefde is die kragtigste mag in die heelal, want God is liefde. Dit sê nie dat Hy liefde het nie; dit sê dat Hy liefde is. Liefde genees wat nie andersins genees kan word nie. Liefde bemoedig. Liefde versterk. Liefde gee energie. Liefde bemagtig.
“Moenie veins dat jy ander liefhet nie; doen dit uit jou hart. Haat alles wat verkeerd is; kies kant vir wat goed is. As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer” (Romeine 12:9-10 NLV).
“Hanteer mekaar met respek” — Ek hou baie daarvan! Weet jy wat dit beteken? Dit beteken dat wanneer enigeen in jou kleingroepie 'n doel bereik het met gesondheid, finansies of enigiets anders, moet jy saam met die persoon bly wees. Vier saam julle oorwinnings. Het jy nog 'n kilogram verloor? Veels geluk! Is jou skuld nou al minder? Fantasties! Het jy 'n deurbraak in jou huwelik ondervind? Uitstekend! Die Bybel sê dat ons ander moet respekteer en wys dat ons omgee.
Dis die wonderlike ding: God het die heelal so geskep dat wanneer jy ander mense help, help God jou met jou probleme. God kyk nie na jou en vra of jy jouself help nie, nee, Hy vra of jy ander mense help. Het jy hulp nodig met jou doelwitte? Begin om ander mense met hulle doelwitte te help. Gee van jouself. Genesing vind plaas as jy van jouself gee.
Onthou jy die verhaal van Job wat alles verloor het? Hy het sy gesondheid, gesin en rykdom verloor. Hy het alles verloor. Aan die einde het God alles vir Job teruggegee. Hoekom? Omdat Job vir homself gebid het? Nee. Ons lees: “Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here hom weer voorspoedig gemaak. Trouens, die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het” (Job 42:10 NLV).
Hoekom behoort jy in 'n kleingroepie te wees? Nie net sodat ander mense jou kan help nie, maar sodat jy hulle kan help. Sodat jy vir hulle kan bid, en God jou dan kan help. Gee liefde en sien dan hoe God in jou lewe werk.
Luister na die onderrig |
Aangaande hierdie leesplan
Wil jy alles word wat God bedoel het jy moet wees? Jy kan, maar nie in jou eie krag nie. As jy elke nuwe jaar soos die meeste mense is, het jy probeer om positiewe veranderinge aan te bring en dan moed verloor en teruggeval op jou ou vernietigende gewoontes. Hier is nou goeie nuus: met God se hulp kan jy op elke terrein van jou lewe positiewe veranderinge aanbring en daarmee volhou. Laat toe dat pastoor Rick jou wys hoe jy die beloftes in die Woord van God kan ontsluit en sy instruksies volg wat jou lewe op sewe belangrike terreine van binne-af sal herskep.
More