HerskepVoorbeeld
Om te Weet Waarheen jy Op Pad is Moet jy Bepaal Waar jy is
Deur Rick Warren
“Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het" (Romeine 12:3b).
Die eerste en grootste hindernis op pad na verandering in enige terrein van jou lewe, is trots.
Die waarheid is dat niemand alles onder beheer het nie. Ek het nie alles onder beheer nie. Jy het nie alles onder beheer nie. Jou predikant het nie alles onder beheer nie. Die Bybel sê dat daar niks volmaak op die aarde is nie, behalwe die Woord van God. Alles op hierdie planeet is gebroke as gevolg van ons sonde.
Ons gaan met ons daaglikse lewe aan, probeer om ander te beïndruk en gee voor dat ons alles onder beheer het. Indien jy blywende verandering in jou lewe wil hê, moet jy eerstens in nederigheid jou huidige toestand beoordeel en erken dat jy nie alles onder beheer het nie. Jy moet erken dat jy 'n probleem het met jou geldsake, jou gesondheid of waarmee jy ook al in jou lewe 'n stryd voer.
Die Bybel sê: “Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het" (Romeine 12:3b).
Is jy bereid om die mense wat die naaste aan jou is te vra: “Waar in my lewe het ek verandering nodig?” Het jy die moed om ander mense te vra om eerlik oor jou en met jou te wees?
Hoekom is dit so belangrik? Omdat jy net dit kan beheer wat jy kan meet. As jy nie weet hoeveel geloof jy het nie, kan jy nie in geloof groei nie. As jy nie weet hoe gesond jy is nie, kan jy nie jou gesondheid verbeter nie. As jy nie weet wat jou finansiële toestand is nie, kan jy nie finansiële doelwitte stel nie. As jy nie weet wat die stand van jou geestelike-, beroeps- en verhoudingslewe is nie, kan jy nie in daardie terreine groei nie. Jy kan net dinge beheer wat jy meet.
Dis ook belangrik om neer te skryf watter vordering jy met jou doelwitte maak. As jy doelwitte aangaande jou geldsake, gesondheid of enige ander aspek gaan stel, teken dit regdeur die jaar aan, sodat jy jou vordering kan meet.
Bepaal waar jy is sodat jy kan weet waarheen jy behoort te gaan.
Luister na die onderrig |
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wil jy alles word wat God bedoel het jy moet wees? Jy kan, maar nie in jou eie krag nie. As jy elke nuwe jaar soos die meeste mense is, het jy probeer om positiewe veranderinge aan te bring en dan moed verloor en teruggeval op jou ou vernietigende gewoontes. Hier is nou goeie nuus: met God se hulp kan jy op elke terrein van jou lewe positiewe veranderinge aanbring en daarmee volhou. Laat toe dat pastoor Rick jou wys hoe jy die beloftes in die Woord van God kan ontsluit en sy instruksies volg wat jou lewe op sewe belangrike terreine van binne-af sal herskep.
More