21 Maniere Om te Floreer Teen 45 JaarVoorbeeld

21 Ways To Thrive By 45

DAG 9 VAN 21

Versorg Jou Liggaam

Ek weet dis dalk 'n sensitiewe onderwerp vir vroue, maar die waarheid is dat ons net een liggaam het. Kom ons versorg dit goed. As 'n volgeling van Jesus is elke deel van ons lewe onder die heerskappy en beheer van Jesus, insluitend ons fisieke liggame. Net soos ons na geestelike gesondheid streef, is dit noodsaaklik dat ons ook liggaamlik gesond is. Ons hart, siel en verstand word in ons liggaam gehuisves. Dis alles aan mekaar verbind. Dit is alles onderhewig aan groei en verrotting.

Dis nie 'n toets om uit te vind hoe maer jy is nie. Ek stel nie 'n dieet of 21-dae ontgifting voor nie. Dis 'n voorstel om vas te stel wat fisieke gesondheid vir jou behels. Vroue kan nie net op brood en koffie lewe nie. Glo my, ek het dit probeer doen. Sy kan ook nie op 900 kalorieë per dag leef nie. Glo my, ek het dit ook probeer doen. Fisieke gesondheid is in gelyke mate selfbeheersing, 'n gesonde selfbeeld en rentmeesterskap van die liggaam wat God ons gegee het.

Indien daar onderliggende kwessies met kos of jou liggaamsbeeld is, vind 'n nuwe uitkyk en verlossing van kwessies wat jou beïnvloed oor hoe jy jou liggaam beskou. Ons is gemaak om in 'n verhouding met Christus te floreer: jou denke, siel, gevoelens en liggaam.

Ons liggaamsmassa-indeks bepaal nie ons waarde nie. Die eerste tree na gesondheid is om te aanvaar dat 'n heilige God ons onvoorwaardelik liefhet. Dieselfde een wat ons geskep het. Ons is sy beelddraers. Daar word nie van ons verwag om 'n ideale gewig of dun middeltjie te bereik om liefde te ontvang van die Een van wie ons dit die meeste nodig het nie.

Vrae vir jouself:

Wat behels dit vir my om te eet om my liggaam se behoeftes te bevredig en nie my emosies nie? Watter fisieke oefening geniet ek en pas in my program? Is daar onderliggende eetprobleme wat nog nie hanteer is nie en opgelos moet word? Hoekom wil ek gesond leef?

Mag jy vandag 'n gesonde lewe kies, ongeag jou ouderdom. Gesondheid is 'n geskenk. 'n Geskenk om op te pas. Mag jou motivering nie as gevolg van skuld en skaamte wees nie, maar gewortel in die liefde en vryheid van Jesus.

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

21 Ways To Thrive By 45

Dis meer as 'n ontgifting. Elke vrou kan doelbewuste stappe doen om die unieke beelddraer te wees wat God bedoel het sy moet wees. Elke dag van hierdie 21-dag leesplan bespreek ons emosionele probleme en kies nuwe gewoontes wat ons siele help floreer. Dit maak nie saak of jy 'n vrou in jou twintigs, dertigs of veertigs is nie, daar is 'n oorvloed van God se goedheid, begrip en genesing om in hierdie tydperk van jou lewe te floreer.

More

Baie dankie aan Tiffany Bluhm wat hierdie leesplan verskaf het. Besoek Tiffanybluhm.com vir meer inligting