21 Maniere Om te Floreer Teen 45 JaarVoorbeeld

21 Ways To Thrive By 45

DAG 13 VAN 21

Wees Tevrede — Filippense

'n Wispelturige hart begeer wat dit nie het nie. Dit word meegesleur deur die stroom van onvervulde drome en plesier. In Filippense 4 gee Paulus ons 'n kykie in sy eie hart van hoe om so iets te hanteer. Paulus, wat gebrek ervaar het, het tevredenheid in die tronk gevind. Hy het geweet dat Christus genoeg was — ongeag gebrek of oorvloed. Hy was nie ontevrede nie. Dit sou hom niks baat nie. Hy het eerder hoop gevind in die slegste omstandighede toe hy ontdek het dat Christus hom die krag sou gee om dit alles te verduur.

Ontevredenheid verminder ons dankbaarheid en maak ons trots. Trots eis sekere dinge, maak aannames en maak planne om sy sin te kry. Wanneer trots nie verder kan gaan nie, kom ontevredenheid. Selfs in goeie tye wurm ontevredenheid in ons lewens in wanneer ons kies om selfonderhoudend te wees eerder as om op Jesus te vertrou vir alles wat ons nodig het. Tevredenheid is 'n keuse. Ons maak die keuse in die slegte én goeie tye van ons lewens. Dis nie aan sekere voorwaardes gekoppel nie, maar eerder 'n hartsbesluit wat te eniger tyd geneem kan word. Tevredenheid ignoreer die gefluister van hooghartigheid, ongeag hoe bevredigend dit voorkom.

Ons begeerte vir goeie dinge, soos gesonde kinders, 'n mooi huis of 'n nuwe werk, is in wese nie sleg nie en ons kan definitief daarna streef, maar ons perspektief daarop maak saak. As ons daardie dinge najaag met ontevredenheid in ons hart, gaan ons nie uitvind dat Christus genoeg is vir die dae en maande wat voorlê nie.

Dit is moontlik om 'n gesonde begrip van tevredenheid te hê terwyl ons ons drome nastreef. Voordat ons die passies in ons lewens nastreef, moet ons harte tevredenheid in Christus vind ten spyte van ons omstandighede. Ontevredenheid laat ons teleurgesteld voel, maar as ons hoop dat Christus alles vir ons kan en wil doen, sal ons 'n heilige lewe kan lei en totale vertroue in ons Verlosser hê.

Tevredenheid laat ons elke dag dankbaar wees. In die hoogte- en laagtepunte van ons lewens. In pyn en in oorwinning. Tevrede harte verklaar dat God genoeg is. Hy sal in alles vir ons voorsien, wat ons ook al kortkom. As ons tevrede is, sal ons nie dit wat ons het vergelyk met wat ander het nie. Ons sal die lewe wat God aan elkeen gee, kan waardeer. Tevredenheid verklaar dat Jesus ons helper is. Ons Verlosser. Hy kan ons nuut maak.

Dag 12Dag 14

Aangaande hierdie leesplan

21 Ways To Thrive By 45

Dis meer as 'n ontgifting. Elke vrou kan doelbewuste stappe doen om die unieke beelddraer te wees wat God bedoel het sy moet wees. Elke dag van hierdie 21-dag leesplan bespreek ons emosionele probleme en kies nuwe gewoontes wat ons siele help floreer. Dit maak nie saak of jy 'n vrou in jou twintigs, dertigs of veertigs is nie, daar is 'n oorvloed van God se goedheid, begrip en genesing om in hierdie tydperk van jou lewe te floreer.

More

Baie dankie aan Tiffany Bluhm wat hierdie leesplan verskaf het. Besoek Tiffanybluhm.com vir meer inligting