Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

DAG 3 VAN 43

Lees: Johannes 1:1–18

SOAP: Johannes 1:1–4

"In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense."

Oordenking

Die evangelie volgens Johannes openbaar onmiddellik die doel van die boek. Binne die eerste vier verse hoor ons dat die Woord ten volle God is, by God was in die begin, alles geskep het en lewe en lig is. Maar wie is die Woord? Dit is nie duidelik in hierdie eerste paragraaf na wie die apostel Johannes, die skrywer van hierdie evangelie, verwys nie. Die proloog (of inleiding) van die boek (Johannes 1:1–18) openbaar meer van wie die Woord is.

In die oorspronklike Grieks is die woord wat as Woord vertaal word logos. Logos kan kommunikasie beskryf, hetsy skriftelik of mondelings, 'n manier om Goddelike waarheid uit te druk. In hierdie geval het die skrywer die woord logos gebruik om die verpersoonlikte Woord van God te beskryf. Ons sal deur hierdie studie ontdek dat hierdie Woord van God menslike gestalte aangeneem het in die persoon van Jesus Christus.

Ons leer dat 'n man genaamd Johannes, van God gestuur is ('n ander Johannes as die skrywer van hierdie boek). Hierdie Johannes het gekom as 'n getuie, om oor die Woord te getuig, sodat almal in Hom sou glo. Johannes se doel was om oor die Woord te getuig omdat die wêreld nie die Woord erken het vir wie Hy is nie. Ons leer dat die Woord vlees geword het – wat beteken dat Hy nie altyd 'n vleeslike liggaam gehad het nie – en op aarde kom woon het. Hy het sy heerlikheid vertoon, heerlikheid wat van God alleen gekom het. Johannes (die getuie) het getuig van die Woord wat vlees geword het. In vers 17 hoor ons dat die Woord Jesus Christus is. Vers 18 getuig dat die Woord, Jesus Christus, self God is.

Hierdie proloog tot die Johannes-evangelie is propvol insig. Johannes (die skrywer) vertel dadelik aan sy gehoor wat hy in hierdie skrywe wou bewys: Jesus is die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe.

Aan die begin van ons studie van die evangelie volgens Johannes, is ons uitdaging om dit met vars oë te lees. Kom ons raak betrokke by die Skrif asof dit die eerste keer is wat ons hierdie evangelie lees (miskien is dit!). Terwyl jy lees, onderstreep of beklemtoon gedeeltes in jou joernaal of Bybel wat die hoof boodskap van die boek bevestig: Jesus is die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/