Hiervoor geskep: 'n Studie oor Identiteit, Inpas en DoelVoorbeeld

Made for This: A Study on Identity, Belonging, and Purpose

DAG 9 VAN 15

Om "Reg" Te Behoort

Deur Gabriella Silva

"Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik" — 1 Johannes 4:11–12.

"Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet" — Handelinge 2:42–46.

Een van die moeilikste dinge as onderwyser, is om konflik onder leerders te ontlont. Dit het amper onmoontlik gevoel om kinders van teenoorgestelde geaardhede oor die weg te laat kom, nog minder om vriende te wees. Een spesifieke dag het twee meisies in my graad een klas begin baklei en mekaar name genoem. In my poging om hulle te help, het ek uitgewys hoe hulle in ons klaskamer albei my geliefde leerders is en dat hulle moet saamwerk om die ander in ons klas te help. Tog kon hulle nie verby die ander se oortredinge sien nie. Hulle natuurlike instink was om na hul eie belange om te sien, selfs al het dit beteken om die ander seer te maak.

Dit het my 'n duidelike beeld gegee van wat sonde aan ons as kerk doen. Ons roeping om aan mekaar te behoort en God se liefde uit te leef, is as gevolg van die uitwerking van sonde, iets wat nie natuurlik vir ons is nie, maar deur genade is dit wel moontlik.

In die begin het God ons geskep om in harmonie en gemeenskap met Hom te lewe, maar sonde het ons van sy liefde geskei. Sonde het elke kraak van ons hart binnegedring en dit bevlek met hebsug, trots, selfsug en wellus. Ons het 'n radikale hartoorplanting nodig gehad om uit genade eerder as ons eie egosentriese wil te leef. Jesus Christus het na hierdie wêreld gekom sodat ons met God versoen kan word en deur dit te doen, het Hy ons binne-in die familie van God gebring. Hy het ons sy Gees gegee, sodat ons in die Gees kan wandel en 'n lewe kan lei wat vir Hom welgevallig is, eerder as die lewe in sonde wat ons voorheen geleef het.

Om beide ons sonde en God se genade te verstaan, stel ons in staat om die liefde en eenheid uit te leef wat God vir ons bedoel het om te lewe. Jy sien, aan die kruis het Jesus die gaping oorbrug wat tussen ons en God gestaan ​​het. Hy het almal wat in Hom glo in die familie van God ingeënt. Deur dit te doen, het Hy ook elke sosiaal-kulturele, rasse, politieke en finansiële kloof uitgeroei wat ons van mekaar skei. Die evangelie stel ons ​​gelyk voor God — meer sondig as wat ons ooit kan dink en meer geliefd as wat ons ooit kan hoop.

Ons word dus geroep om op God se genade te reageer deur saam te lewe en lief te hê soos Christus ons liefhet. Dit is die moeilikste, dog mees eerbare roeping wat ons as gelowiges het. As ons mekaar waarlik liefhet op die kontra-kulturele, vreeslose manier waarop ons geliefd is, dan sal die wêreld God waarlik ken (Johannes 17:20–23). Ons eenheid — ons oop, kwesbare, deurmekaar, onvolmaakte, dog verbonde wandel saam; ons lewe as lede van een liggaam in Christus — sal ’n verlore wêreld na hulle Skepper wys en hulle daardeur uitnooi om by die familie aan te sluit. Ons is geskape om deur God geken, geliefd te wees, en om te behoort.

Pouse: Is jy lief vir ander in die kerk? Veral diegene wat nie in jou kring is nie of anders as jy is?

Oefening: Sluit aan en dien saam met 'n groep mense wat jy nog nie ken nie en aanskou saam wat die Here in hierdie tyd doen!

Bid: Vader, ek bely dit is moeilik om lief te hê soos U my liefhet. Ek verlustig my in u genadegawe, maar versuim om dit na my naaste uit te brei. O, Here, ek het u hulp nodig. Help my om lief te hê soos U my liefhet, nie net in woorde nie, maar met my dade. Help die wêreld om U, deur ons — u kerk, te sien. Amen.

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Made for This: A Study on Identity, Belonging, and Purpose

Wie is ek? Hoekom is ek hier? Waar pas ek in? Wat is my doel? As jy ooit oor groot vrae soos hierdie nagedink het, is jy nie alleen nie. Diep binne voel ons almal of daar meer aan die lewe is, dat ons vir meer geskep is. In hierdie 15-dag leesplan, sal ons ontdek wie ons geskep is om te wees, waar ons waarlik inpas en ware aanvaarding vind, en vir watter doel God ons geskep het!

More

Ons wil graag Calvary Chapel Ft. Lauderdale bedank wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://Resources.CalvaryFTL.org