Hiervoor geskep: 'n Studie oor Identiteit, Inpas en DoelVoorbeeld
![Made for This: A Study on Identity, Belonging, and Purpose](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F29443%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Geheime Formule
Deur Lisa Supp
“Hulle het God deurentyd geprys, en die goedgesindheid van die hele volk geniet. En die Here het elke dag mense wat verlos word, by hulle gevoeg.” — Handelinge 2:47 (NLV)
My gesin het eenkeer in 'n gebied gewoon waar skape op die oop veld gewei het. Een lente het ek minder lammers opgemerk en ek het een van die skaapwagters gevra wat die rede is. Waar is die babas? Hy het sy arms vorentoe geswaai en gesê: “Kyk om ons. Waar is die lekker kos in hierdie woestyn?” Dit was duidelik dat die volwassenes nie die nodige voeding gekry het om voort te plant nie. Dorre landstreke is gelyk aan onvrugbare ooie.
Dit het my laat dink aan iets wat ek van Pastoor Chuck Smith gelees het in een van sy kommentare: (vrye vertaling): gesonde skape vermeerder. Natuurlik het hy na die kerk en sy mense verwys – die skape van ons goeie herder. Kom ons dink vir 'n oomblik daaroor na ... Wanneer dit reg gedoen word, wanneer skape genoeg voer kry en gesond is, word meer lammers in die kudde gebore. Kom ons sit hierdie idee eers eenkant en kyk terug na die vers hierbo om die konteks daarvan te hersien.
Die agtergrond is Pinkster. Petrus, vervul met die Heilige Gees, het 'n kragtige boodskap aan die mense in Jerusalem gebring. Baie daarvan was gebaseer op die Skrif wat hy geken het en sy ervaring met Jesus. Sy woorde het inslag in hulle harte gevind en hulle het gevra wat hulle moet doen om gered te word. Petrus se antwoord? Bekeer julle! Word gedoop in die Naam van Jesus Christus (Handelinge 2:37–38). En 3 000 mense het dit gedoen.
Wat hulle egter ná hul doop gedoen het, was die sleutel tot die gesonde vermeerdering van die kerk. "Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede" (vers 42). Hulle was eensgesind, hulle het aan enigiemand in nood gegee wat hulle kon en hulle het God geprys. Hulle het gegroei in hul begrip van die Woord van God en het hul verhouding met Jesus verdiep. Sodoende was hulle beter toegerus om die evangelie met ander te deel.
Om terug te keer na die skape en hoe ons geleer het dat beter voeding meer lammers sal oplewer. Wat gebeur as ons hierdie konsep toepas op die kerk of die individu binne-in die kerk? Hoe ontvang ons ons geestelike voeding? Deur die voorsiening van die Heilige Gees en die kennis van die Woord van God. Wanneer ons soos Petrus op die waarheid en krag van die Woord van God staan en ons ervarings met Jesus deel, sal die Here die vermeerdering bring.
Wanneer dit reg gedoen word — wanneer ons ons tyd daaraan bestee om die Woord van God te ken, aan gemeenskap met die lidmate, om mildelik te gee en vurig te bid — dan sal die Here daagliks byvoeg tot sy kerk. Dit is nie 'n eksterne poging nie, dit is 'n interne toegeneentheid. Dit verander nie ons benadering nie, dit is voortdurende toewyding. Dit is nie die woorde wat ons sê nie, dit is die Woord wat ons inneem en hoe sy waarheid deur ons praat.
Daar is geen geheime formule nie. Charles Spurgeon skryf: “As ons herlewing wil hê, moet ons ons eerbied vir die Woord van God laat herleef.” Amen daarop.
Pouse: Wat was deurslaggewend in die aanvanklike groei van die kerk?
Oefening: Hoe neem jy oor die algemeen jou geestelike voeding in? Geniet die Woord van God prioriteit?
Bid: Vader, ek verhef myself en my broers en susters in Christus, dat ons sal honger en dors na geregtigheid en tot U sal nader in ons stil tye en in gemeenskap. Ek vra vir 'n wêreldwye herlewing, Here, en dat ons 'n verlengstuk van u vriendelikheid sal wees wat tot bekering lei. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
![Made for This: A Study on Identity, Belonging, and Purpose](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F29443%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Wie is ek? Hoekom is ek hier? Waar pas ek in? Wat is my doel? As jy ooit oor groot vrae soos hierdie nagedink het, is jy nie alleen nie. Diep binne voel ons almal of daar meer aan die lewe is, dat ons vir meer geskep is. In hierdie 15-dag leesplan, sal ons ontdek wie ons geskep is om te wees, waar ons waarlik inpas en ware aanvaarding vind, en vir watter doel God ons geskep het!
More