Hiervoor geskep: 'n Studie oor Identiteit, Inpas en DoelVoorbeeld
Jou Rol in Jou Doel
Deur Danny Saavedra, Dominee
“"My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer”— Filippense 2:12-13.
Die afgelope paar dae het ons die volgende vasgestel:
- Die mens se primêre doel in die lewe is om God vir ewig te ken, te verhef en te geniet.
- Die gelowige se doel in hierdie wêreld is om dissipels te maak.
- God het 'n unieke doel vir elkeen van ons wat Hy vooraf voorberei het sodat ons daarin kan leef en wandel.
Soos vandag se Skrifgedeelte vir ons wys, is dit eintlik God self wat in ons werk en sy goeie en volmaakte doelwitte in, deur en om ons bereik. Dit is Hy wat in ons werk “deur Jesus Christus in ons tot stand [te] bring wat vir Hom aanneemlik is” en ons "toerus met alles wat goed is, sodat [ons] sy wil kan doen” (Hebreërs 13:21b) en vir “elke goeie werk” (2 Timoteus 3:17b).
Na die lees hiervan, kan jy dalk dink, wonderlik! God doen alles en dus kan ek maar net agteroorsit en Hom laat voortgaan, reg? Wel, ja, Hy doen dit, maar ons kan nie net agteroorsit en niks doen nie. Ons het 'n aktiewe rol om in ons doel en in God se werk in ons lewens te speel. Soos vandag se Skrifgedeelte in Filippense 2:12c AFR20 sê: “werk met met vrees en bewing aan [ons] verlossing.”
Die woord vir werk (katergazomai) beteken in wese om jou deel te doen met ywer, oorgawe, nederigheid en diepe sorg. Daarom moet ons daaraan toegewyd wees om ons verlossing te bewerkstellig op dieselfde manier as wat iemand sy spiere in die gimnasium sou oefen! Dink daaroor, jy laat nie jou spiere groei nie, reg? Jou liggaam doen dit op sy eie, solank jy bestendig in jou oefensessies is en reg eet.
Hoe sou dit dan prakties lyk? Dit is om in toewyding Bybelstudie te doen, te bid, Hom te loof en prys en om in gemeenskap met sy mense te leef. Dit beteken om van Hom te hoor, met Hom te praat en aan sy mense verbind te wees. Dis ons rol — intimiteit met die Here, groei in 'n verhouding met Hom! Dit is so eenvoudig, vriende!
Terwyl ons tyd met Hom deurbring, terwyl ons onsself verbind tot daaglikse studie van die Bybel en gebed, werk Hy om ons te laat groei, ons sterk te maak en sy goeie doel te bewerkstellig! Hy “voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe” (Titus 2:12) en “om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid!” (Efesiërs 3:20-21).
Ons kan dus troos vind in die wete dat God inderdaad die werk in ons doen, solank ons tyd met Hom deurbring en groei in ons verhouding met ons wonderlike en liefdevolle Verlosser!
Pouse: Wat is ons rol in God se doel wat Hy in ons lewens wil bereik?
Oefening: Lees Filippense 2:1-18 vandag en dink daaroor na!
Bid: Vader, dankie vir wie U is en alles wat U doen. Dankie dat alles oor U gaan en alles van U afhang; dat u goeie doelwitte nie afhanklik is van my prestasie nie, maar van u getrouheid! Ek bid dat terwyl ek aanhou groei in intimiteit met U, dat U met my en in my alles sal doen wat U vir my voorberei volgens u wil vir my. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wie is ek? Hoekom is ek hier? Waar pas ek in? Wat is my doel? As jy ooit oor groot vrae soos hierdie nagedink het, is jy nie alleen nie. Diep binne voel ons almal of daar meer aan die lewe is, dat ons vir meer geskep is. In hierdie 15-dag leesplan, sal ons ontdek wie ons geskep is om te wees, waar ons waarlik inpas en ware aanvaarding vind, en vir watter doel God ons geskep het!
More