Hiervoor geskep: 'n Studie oor Identiteit, Inpas en DoelVoorbeeld
![Made for This: A Study on Identity, Belonging, and Purpose](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F29443%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Hoekom Is Ons Hier
Deur Pastoor Dan Hickling
“Elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.” — Jesaja 43:7
“Hoekom is ek hier?” Ongetwyfeld het ons almal dit al op 'n stadium gevra. Dit is deur God se ontwerp en doelbewuste wil dat ons in verwondering sal wees, dat ons bepeins en bevraagteken terwyl ons stilstaan en na die wêreld kyk wat ons omring — die ontelbare sterre in die lug, die majestueuse berge op die horison, die see se golwe wat onophoudelike in- en uitrol. Die onmiskenbare skeppingsorde laat ons vra of daar te midde van alles vir ons betekenis is.
Sommige mense jaag hierdie vraag na soos 'n hond sy stert jaag — tot hul sterfdag. Hulle kom nooit by die rede vir hulle eie bestaan uit nie. Dit hoef nie vir een van ons te gebeur nie, want as ons kyk na wat God vir ons in sy Woord sê, kan ons duidelik sien hoekom ons hier is. God self sê vir ons hier deur die profeet Jesaja dat ons deur Hom tot sy eer geskep is — om die God wat ons geskep het te verheerlik.
Ons lewens is nie betekenisloos nie! Ons doel is om ons van ons selfsentrerende begeertes te onttrek wat ons gedagtes en optrede regeer, en ons hele wese oor te gee om aan God eer te bring. Met ander woorde, dit gaan nie oor ons nie, dit gaan oor Hom. Soos die maan die glans van die son weerspieël, moet ons lewens die glans van wie God is weerspieël én wat Hy gedoen het.
Van die oomblik dat ons wakker word, moet ons God verheerlik. Terwyl ons werk toe pendel, moet ons God verheerlik. In die teekamer wanneer die meule van skinder begin draai, moet ons God verheerlik. Wanneer dit by ons werksetiek kom, moet ons God verheerlik. Wanneer ons erkenning ontvang omdat ons meer gedoen het as wat in ons werk verwag word, moet ons God verheerlik. Wanneer ons met 'n onverwagte tragedie getref word, moet ons God verheerlik. Wanneer ons verward is deur wat Hy in ons lewens toelaat, moet ons God verheerlik. Wanneer ons ons hande hoog in lofprysing ophef, moet ons God verheerlik. Wanneer ons deur 'n ander persoon geïrriteer word, moet ons God verheerlik. Wanneer ons verraai word deur iemand wat ons vertrou, moet ons God verheerlik. Wanneer ons ons laaste asemteug in hierdie wêreld neem, moet ons God verheerlik.
Ons is hier om God te verheerlik ... punt! Ons doen dit deur ander weg van onsself en na sy goedheid te wys, te deel wat Hy gedoen het (veral om die evangelie te deel), om Hom deur ons beproewinge te vertrou, in gehoorsaamheid aan sy wil te wandel en in 'n sielsbevredigende verhouding met Hom te lewe. Die geleenthede hiervoor is eindeloos, omdat Hy oneindig glorieryk is in wie Hy is en wat Hy doen. Kan daar enige groter bestaansdoel wees as wat God aan ons gee?
“Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep” — Openbaring 4:11.
Pouse: Wat openbaar die Woord van God aan ons oor die eeue-oue vraag hoekom ons hier is?
Oefening: Dink na hoe jou daaglikse besluite beïnvloed word deur jou bewustheid van God se doel vir jou lewe, en hoe jy hierdie bewustheid kan verskerp.
Bid: Glorieryke God, mag ek my doel sien volgens u plan vir my lewe. Deur u Gees, stel my in staat om van myself af weg te draai sodat ek na U toe kan draai en ander ook sodoende hulle na U kan wend. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
![Made for This: A Study on Identity, Belonging, and Purpose](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F29443%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Wie is ek? Hoekom is ek hier? Waar pas ek in? Wat is my doel? As jy ooit oor groot vrae soos hierdie nagedink het, is jy nie alleen nie. Diep binne voel ons almal of daar meer aan die lewe is, dat ons vir meer geskep is. In hierdie 15-dag leesplan, sal ons ontdek wie ons geskep is om te wees, waar ons waarlik inpas en ware aanvaarding vind, en vir watter doel God ons geskep het!
More