Hiervoor geskep: 'n Studie oor Identiteit, Inpas en DoelVoorbeeld
Identiteitskrisis
Deur Pastoor Dan Hickling
“Toe het God gesê: ‘Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip'”– Genesis 1:26.
Ons wêreld is in 'n krisis, maar nie die soort waaraan jy waarskynlik dink nie. Dit is nie die neweproduk van 'n oordraagbare siekte nie en is ook nie gewortel in enige politieke, sosiale of ekonomiese kwessie nie. Hierdie krisis is baie wyer en strek veel dieper. Dit het selfs die potensiaal om tot in die diepste wese van elke persoon op die planeet te reik. Klink dit vermetel, oordrewe of buitensporig? Nouliks ... dit raak skaars die oppervlak van die identiteitskrisis van die siel wat elke mens uiteindelik moet konfronteer.
Ons kom almal in hierdie wêreld met 'n diepliggende gevoel dat iets in ons ontbreek. Dit is daardie interne worsteling wat op die speelgrond begin wanneer ons agterkom dat groepe gevorm word. Ons word pouses bewus gemaak dat sommige groepe meer gewild as ander is en ons probeer óf om 'n sitplek daar te kry óf ons voel wrewelrig oor hierdie nuut ontdekte werklikheid. Dit is net die begin van 'n mens se soeke na identiteit. Wie is ek? Wat is my plek in die lewe? Aan wie behoort ek? Hoekom voel ek onvoltooid op my eie? Wie is my mense? Hoe pas ek in en bly in?
Klink dit bekend? Natuurlik, want ons kom almal een of ander tyd by hierdie identiteitskrisis uit. Almal vra hierdie vrae, maar nie almal vind die antwoorde nie, of die antwoorde is nie wat ons wou hê hulle moet wees nie. Daar is egter een plek waar elke vraag oor ons identiteit beantwoord word, en die antwoord is wonderliker as enigiets wat ons kan hoop of onsself indink. Ons vind dit in die Woord van God en dit verspil nie tyd om ons identiteitskwessie vir ons op te los, deur te openbaar dat die mensdom na niks minder as God se eie beeld en gelykenis gemaak is nie.
Eenvoudig gestel, ons behoort aan God, ons lewens moet geleef word volgens sy doel vir ons, en ons sin van identiteit kom van Hom af. Dit is iets groots, want dit beëindig die uitputtende soeke om ons diep begeerte na identiteit te bevredig deur met iemand of iets buite onsself te skakel.
Uiteindelik is niks op hierdie aarde in staat om ten volle aan ons instink om identiteit te voldoen nie; nie ons vriende, ons gesin, ons status, ons CV nie ... niks daarvan onderdruk die gevoel dat ons identiteit onvolledig is nie. Wanneer God egter sentraal in ons lewens geplaas word, vind die konflik uiteindelik 'n oplossing. Die krisis word agterweë gelaat en daar wag op ons 'n avontuur wat ontvou om saam met God te wandel!
Ek is as God se beeld geskape. My plek is in 'n verhouding met Hom. Ek behoort waar Hy my ook al plaas. Ek is volledig in Hom. My mense is almal Syne en ek pas in en bly in, volgens sy krag wat in my lewe werk.
Pouse: Hoe vereenselwig jy jou met die wydverspreide identiteitskrisis? Waar vind jy jou sin van identiteit?
Oefening: Dink na hoe jy die feit prakties kan versterk dat jou ware identiteit van God afkomstig is. Hoe kan Genesis 1:26 hiervan deel wees?
Bid: Vader, ek bely dat ek vasgevang en afgelei kan word deur die dinge van die wêreld — en selfs toelaat dat hulle my sin van identiteit dikteer. Beskerm my teen hierdie neiging en hou my stewig gevestig op die feit dat U bepaal wie ek is en alles wat uit daardie waarheid vloei. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wie is ek? Hoekom is ek hier? Waar pas ek in? Wat is my doel? As jy ooit oor groot vrae soos hierdie nagedink het, is jy nie alleen nie. Diep binne voel ons almal of daar meer aan die lewe is, dat ons vir meer geskep is. In hierdie 15-dag leesplan, sal ons ontdek wie ons geskep is om te wees, waar ons waarlik inpas en ware aanvaarding vind, en vir watter doel God ons geskep het!
More