Hiervoor geskep: 'n Studie oor Identiteit, Inpas en DoelVoorbeeld
Alles Tot Jou Beswil, Alles Tot Sy Eer
Deur Danny Saavedra, Dominee
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” — Romeine 8:28.
Soos ons gister gesien het, is God die een wat ons “toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen”. Hy is die een wat in ons werk “deur Jesus Christus in ons tot stand [te] bring wat vir Hom aanneemlik is” (Hebreërs 13:21b), en Hy is die een wat in ons werk “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer” (Filippense 2:13). Het jy opgelet die woord “goed” en “bekwaam” word in die twee verse gebruik om iets goeds uit te druk?
In die oorspronklike Grieks word die woord vir goed (agathos) gedefinieer as “intrinsiek goed, goed van aard, goed of dit so gesien word of nie.” Dis goedheid wat van God afkomstig is en deur Hom in iemand se lewe deur geloof bekragtig word. Hy werk dus in ons om te bereik wat waarlik en volkome goed van aard is, aangesien Hy goed van aard is; Hy werk in ons om te doen en op te tree ten einde sy Goddelik geïnspireerde en volkome goeie doelwitte te vervul. Vriende ... dit sluit ook die dinge in wat in ons lewens gebeur wat ons as sleg beskou soos trauma, pyn en lyding.
Die boek Romeine is 'n meesterklas van teologie en die Christelike lewe en die middelpunt daarvan is vandag se vers, wat verklaar: “dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” Wag, dus nie net goeie dinge nie, maar alle dinge? Ja! Dieselfde God wat in ons werk om sy goeie doel te bereik, is die God wat in ons lyding, pyn, trauma, swaarkry, seerkry en kwelling werk en ons van alles verlos tot ons eie beswil, tot sy eer en sy goeie doel. Dieselfde God wat ons toerus met alles wat goed is om sy wil te doen, is ook dieselfde God wat ons toerus om “meer as oorwinnaars [te wees] deur Hom wat vir ons liefhet” (Romeine 8:37) en vir ons sê: “Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou” (Jesaja 41:13).
Ek wil nie hê iemand moet voel hul pyn word geringgeag of verklein nie. Lyding maak seer en trauma is pynlik. Krisis, dood, siekte, angs, beproewings en verdrukking in die lewe is baie moeilik om deur te gaan. Wees egter bemoedig, want deur alles sorg God vir ons (1 Petrus 5:7), Hy neem ons laste op Homself (Matteus 11:28–30), en Hy sal "eer gee in plaas van smart" (Jesaja 61:3), "Hy sal al die trane van [julle] oë afdroog" en "pyn sal daar nie meer wees nie" (Openbaring 21:4).
Ten laaste: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie” (Romeine 8:18). Uiteindelik kan ons tot God roep en vol vertroue wees dat Hy ons hoor en ons toerus om deur alles te gaan en alles te verduur. Hy “vervul sy doel” vir ons (Psalm 57:2) — en daardie doel is GOED!
Pouse: Het jy al gesien hoe God dinge in jou lewe ten goede laat meewerk om sy goeie doelwitte in en deur jou te bereik?
Oefening: Skryf die verse van vandag se oordenking neer en plaas dit waar jy dit kan sien om jou te herinner aan die waarheid van sy goedheid en sy doelwitte vir jou.
Bid: Vader, ek bid dat u wil en doelwitte vandag en elke dag in my lewe sal geskied! Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wie is ek? Hoekom is ek hier? Waar pas ek in? Wat is my doel? As jy ooit oor groot vrae soos hierdie nagedink het, is jy nie alleen nie. Diep binne voel ons almal of daar meer aan die lewe is, dat ons vir meer geskep is. In hierdie 15-dag leesplan, sal ons ontdek wie ons geskep is om te wees, waar ons waarlik inpas en ware aanvaarding vind, en vir watter doel God ons geskep het!
More