Al Ooit Gewonder Hoekom? Voorbeeld
Waarheen Volgende?
Ons het die vorige paar dae 'n paar belangrike vrae gevra — vrae wat moontlik nog meer vrae na vore gebring het. Hierdie nuuskierigheid is nie iets om voor bang te wees nie — dit is 'n kern deel daarvan om 'n volgeling van Jesus te wees en ons geloof te bou.
Ons gaan nie altyd die antwoorde kry wat ons so graag wil hê nie, maar ons het toestemming om te vra. Inteendeel, Jesus het vir ons opdrag gegee om soos kinders te glo.
Sommige mense sal dit as blinde geloof vertolk, maar as jy al ooit vir 'n rukkie by 'n kind was, sal jy weet hulle vra baie vrae. Tog hoekom hulle vrae vra is dikwels anders as hoe ons as volwassenes vrae vra.
Kinders vra nie omdat hulle skepties of sinies is nie. Hulle is werklik nuuskierig. Hulle het 'n natuurlike verwondering vir die wêreld om hulle, en hulle leer en ondersoek graag meer daaroor. Dit is die soort geloof wat Jesus ook vir ons wil hê.
Om kinderlike geloof te ontwikkel is om 'n geloof te hê wat deur verbeelding gevul is en wat nie bang is om ondersoek in te stel nie.
Geloof beteken dus nie om al die antwoorde te hê nie — anders sou dit glad nie geloof gewees het nie. Dit is die keuse om God eerder te vertrou, al verstaan ons nie en al kan ons nie die volle prentjie sien nie.
Selfs Jesus se dissipels het nie alles verstaan nie, maar het gekies om Hom nietemin te volg. Ons lees in Lukas 18, nadat Jesus verduidelik het wat met Hom gaan gebeur, het sy dissipels so reageer:
Hulle het "van hierdie dinge niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie" Lukas 18:34.
Tog het hulle vlak van begrip nie hulle gehoorsaamheid beïnvloed nie. Al het hulle nie verstaan nie, het hulle Jesus vertrou en Hom gevolg.
Selfs toe Jesus baie ingewikkelde begrippe bespreek het, soos in Johannes 6 wat daartoe gelei het dat baie volgelinge Hom verlaat het — het sy dissipels toegewyd gebly. Jesus het selfs sy dissipels gevra of hulle Hom ook gaan verlaat, waarop Simon Petrus geantwoord het:
"… Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is” Johannes 6:68-69.
Ons weet dat Jesus die weg, die waarheid en die lewe is. Daar is geen beter weg as om sy volgeling te wees nie. Al verstaan ons dus nie sy plan nie, kan ons vertroue hê in wie Hy is.
Terwyl hierdie leesplan nou tot 'n einde kom, onthou die volgende: God is baie groter as jou twyfel. Hy verwelkom jou vrae. Ons geloof beteken nie om net in wysheid te groei nie, maar om ook in ons sin van verwondering te groei namate ons kies om Jesus te volg en Hom beter te leer ken.
Bid: Vader, gee vir my kinderlike geloof in wie U is. Versterk my verwondering en verbeelding, sodat ek nie bang sal wees om die moeilike vrae te vra om meer oor U te leer nie. Ek vertrou U, en ek weet in U is daar oorvloedige lewe. Dankie vir wie U is. In die Naam van Jesus, amen.
Uitdaging: Dink na oor maniere hoe jy jou kinderlike geloof en verwondering in wie God is, kan uitbou. Doen dan iets daaromtrent!
Aangaande hierdie leesplan
Wat as geloof minder daaroor gaan om al die regte antwoorde te ken en meer daaroor gaan om moeilike vrae te vra? As jy al ooit gewonder het hoekom dit voorkom asof God onregverdig is, hoekom Hy nie ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag nie, of hoekom 'n liefdevolle God die hel geskep het, dan is hierdie 7-dag leesplan, wat gepaardgaan met Pastoor Craig Groeschel se "Ever Wonder Why?"-reeks, vir jou.
More