Al Ooit Gewonder Hoekom? Voorbeeld
Al Ooit Gewonder Hoekom God Jou Liefhet?
Was dit al ooit vir jou moeilik om God se liefde vir jou te aanvaar? Soms weet ons Hy het ons lief, maar dis maklik om te wonder hoekom. Ons weet van al die kere wat ons gestruikel en Hom teleurgestel het. Hoe kan 'n volmaakte, heilige God dus steeds kies om sondige, onvolmaakte mense soos ons, lief te hê?
Dit is nog 'n groot vraag, maar God se liefde het min of niks met ons te doen nie. Wanneer ons dit besef en verstaan, is dit regtig goeie nuus, want dit beteken ook dat God se liefde nie deur ons goedheid, optrede, of enigiets wat ons doen of nie doen nie, beïnvloed kan word nie.
Hoekom het God ons dan lief? Ons sal nooit aan hierdie kant van die hemel weet wat die antwoord is nie, maar die Bybel gee vir ons baie redes. Hier is net 'n paar:
1. Liefde is nie iets wat God doen nie, dit is wie Hy is. In 1 Johannes, lees ons dat liefde nie net 'n deel van God is nie. Ons besef God is liefde. Enige idee wat ons van ware liefde het, is afkomstig van God, die oorsprong en voorbeeld van liefde. God het ons dus lief, want liefde vorm 'n kern van sy identiteit.
2. God het ons lief, want Hy het ons geskep en na sy beeld gevorm. God is ons Skepper, Hy weet dus ten diepste hoekom Hy ons geskep het, die doel wat Hy vir ons lewens het en die potensiaal waaroor ons beskik. Hy het ons nie nét geskep nie, Hy het ons as sy verteenwoordiger as sy beeld geskep, en Hy het gesê dit is baie goed. Dit maak dus sin dat God sy skepping liefhet en daarvoor omgee.
3. God het vooruit besluit om ons as sy kinders aan te neem. God het sy liefde aan ons bewys deur sy Seun te stuur om vir ons sondes te sterf nog voordat ons enigiets van Hom geweet het. Die Bybel vertel ons ook dat God van die begin af geweet het dat Hy ons, deur Jesus, as sy kinders gaan aanneem. Wanneer ons vir Jesus aanneem, word ons kinders van God — sy familie is dus gevestig deur sy onverdiende liefde en genade.
Daar is waarskynlik nog meer redes hoekom God kies om ons lief te hê, maar die wonderlikste nuus is, omdat God liefde is en God altyd dieselfde is, is ons verseker dat sy liefde vir ons altyd sal bestaan.
God se liefde word nie deur ons bepaal nie — dit gaan heeltemal oor wie Hy is. Romeine 8:38-39 herinner ons dat niks ons kan skei van die liefde van God nie. Niks wat jy ooit kan doen sal veroorsaak dat God jou meer liefhet as wat Hy jou alreeds het nie. Niks wat jy kan doen sal ook veroorsaak dat God jou minder liefhet nie.
Indien jy dus sukkel om God se liefde te aanvaar, onthou dan dit gaan nie oor jou nie. Dit gaan oor die God wat jou as sy kind, na sy beeld geskep het. Deur dit te besef word ons geloof versterk, word ons herinner aan God se karakter en dit help ons om sy onvoorwaardelike, onveranderlike liefde te aanvaar.
Bid: Vader, dankie dat U ons na u beeld geskep het en ons "goed" noem. U het u liefde aan ons bewys deur Jesus na ons te stuur terwyl ons nog sondaars was en ek is U ewig dankbaar vir daardie geskenk. Dankie dat U vir my, deur Jesus, as u kind aangeneem het. Help my om u liefde ten volle te aanvaar en dit met ander te deel. In die Naam van Jesus, amen.
Uitdaging: Maak 'n lys van die Skrifgedeeltes wat jou herinner aan God se liefde vir jou. Keer terug na hierdie lys op die dae wat dit vir jou moeilik is om sy liefde te aanvaar en herinner jou gevoelens aan die waarheid van die Woord van God.
Aangaande hierdie leesplan
Wat as geloof minder daaroor gaan om al die regte antwoorde te ken en meer daaroor gaan om moeilike vrae te vra? As jy al ooit gewonder het hoekom dit voorkom asof God onregverdig is, hoekom Hy nie ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag nie, of hoekom 'n liefdevolle God die hel geskep het, dan is hierdie 7-dag leesplan, wat gepaardgaan met Pastoor Craig Groeschel se "Ever Wonder Why?"-reeks, vir jou.
More