Al Ooit Gewonder Hoekom? Voorbeeld
Al Ooit Gewonder Hoekom 'n Liefdevolle God Die Hel Geskep Het?
Vandag se vraag is 'n bekende vraag onder Christene en nie-Christene, en so gelaai soos wat dit is, is dit 'n kern deel van die goeie nuus.
Alvorens ons inspring oor hoekom 'n liefdevolle God die hel geskep het, kom ons bestudeer eers die onderstaande vrae.
- Kan God se heiligheid sonder sy geregtigheid bestaan?
- Kan keuses sonder nagevolge bestaan?
Die bostaande vrae is moontlik selfs nog meer verwarrend, maar kom ons ondersoek dit 'n bietjie. Die meeste mense glo dat daar nagevolge moet wees vir iemand wat 'n ander seermaak — met ander woorde geregtigheid moet geskied. Tog word ons versoek om te wil glo dat God liefdevol is sonder om te erken dat Hy ook geregtig is.
Maar die een kan nie sonder die ander bestaan nie.
God is heilig — afgesonder en volmaak in elke opsig. Hy kan, omdat Hy heilig is, nie omring word met sonde en onvolmaaktheid nie, en dis slegte nuus, omdat ons almal gesondig het. Tog is God ook liefdevol en getrou, Hy het dus 'n uitweg vir ons bewerk. Jesus het God se begeerte na geregtigheid vervolmaak en terselfdertyd sy liefde aan ons bewys.
Jesus het 'n volmaakte lewe gelei en op die kruis vir ons sonde gesterf — en dit is hoekom God ons vergewe. God sien nie meer ons sonde wanneer ons kies om Jesus te volg nie — Hy sien sy volmaakte Seun.
Dit beklemtoon die volgende noodsaaklike deel van die goeie nuus — keuse. God gee vir ons almal die keuse om Hom te volg en lief te hê; of om Hom teen te staan en ons eie pad te volg. God verplig ons nie om Hom lief te hê nie, en ook nie om Hom te kies nie.
Daardie keuse beteken daar moet 'n ander opsie vir mense wees wat nie God se uitnodiging tot verlossing wil aanvaar nie. As God die nagevolge van daardie keuse sou wegneem — die ewigheid saam met Hom of sonder Hom — sal die geldigheid van die keuse ook verwyder word.
Dit beteken dus dat indien iemand nie vir Jesus wil aanvaar nie, moet daar 'n ander keuse wees vir hulle, anders het hulle nie regtig 'n keuse nie. Dit is een van die redes hoekom die hel bestaan — om die keuse te respekteer van die wat nie verlossing deur Christus wil aanvaar nie en om in geregtigheid teenoor hulle op te tree.
Nog 'n rede het ook te doen met God se geregtigheid. Openbaring 20:10 sê dat die hel bestaan sodat God die duiwel ook in geregtigheid kan behandel. Die Satan se doelwit is om te steel, dood te maak en almal wat God liefhet, te vernietig. God het dus, in sy geregtigheid, die hel geskep om finaal met die Satan af te reken.
Om terug te kom by ons, aangesien geen mens op ons eie goed, reinig en heilig is nie, het ons vir Jesus nodig. In sy volmaakte liefde vir ons, het ons Vader die geleentheid geskep vir elkeen om die ewigheid saam met Hom deur te bring deur ons geloof in Jesus. Sy reinheid bedek ons en laat ons toe om vir ewig in sy teenwoordigheid te leef wanneer ons sy uitnodiging aanvaar en ons lewens vir Hom gee.
Bid: Vader, dankie dat U liefdevol en getrou is. In hierdie wêreld, is dit moeilik, maar eendag gaan U alles wat verkeerd is, regmaak en daarom loof ek U. Dankie vir die gawe van verlossing deur Jesus. Maak my passievol om hierdie goeie nuus met ander te deel. In die Naam van Jesus, amen.
Uitdaging: Hoe word jou begrip van die goeie nuus beïnvloed deur die wete dat die hel 'n realiteit is? Hoe kan jy daardie nuus met meer mense in jou lewe deel?
Aangaande hierdie leesplan
Wat as geloof minder daaroor gaan om al die regte antwoorde te ken en meer daaroor gaan om moeilike vrae te vra? As jy al ooit gewonder het hoekom dit voorkom asof God onregverdig is, hoekom Hy nie ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag nie, of hoekom 'n liefdevolle God die hel geskep het, dan is hierdie 7-dag leesplan, wat gepaardgaan met Pastoor Craig Groeschel se "Ever Wonder Why?"-reeks, vir jou.
More