Al Ooit Gewonder Hoekom? Voorbeeld

Ever Wonder Why?

DAG 2 VAN 7

Al Ooit Gewonder Hoekom Jy Nie Altyd God Se Teenwoordigheid Kan Aanvoel Nie? 

Jy het seker al verskillende vlakke van God se nabyheid beleef, of jy Jesus nou vir 'n paar dae of al vir jare volg. Party dae voel jy baie naby aan God. Ander dae voel jy dalk so ver van God af dat jy selfs wonder of jy nog enigsins geloof het. 

Dis normaal. Ons is geneig om geloof te sien as die bergtop-oomblikke. Miskien was dit daardie aand by die kerkkamp, of 'n ervaring by 'n erediens waar jy deur die teenwoordigheid van God oorweldig was, maar dan word jy die volgende oggend wakker en wonder of dit alles net in jou verbeelding gebeur het. 

Asof dit nie erg genoeg is nie, is daar moontlik ander Christene om jou wat in hul geloof jou ligjare vooruit is. Jy hoor hulle sê: “God het vir my gesê …” en “Ek het God aangevoel …” terwyl jy voel asof jy vir maande niks van Hom gehoor het nie. 

Al hierdie spanning kan daartoe lei dat jy begin wonder — hoekom kan ek God nie altyd aanvoel nie? 

Hierdie vraag is te verstane en wanneer jy jouself in 'n tydperk bevind waar dit voel of God ver weg is, weet dat jy nie alleen is nie. Wat kan ons dus gedurende die wagtydperk doen? Hoekom voel ons nie altyd God se teenwoordigheid aan nie? 

Daar is nie altyd 'n maklike antwoord vir elke situasie nie, maar hier volg 'n paar dinge om te onthou wanneer jy ver van God af voel. 

1. Gevoelens is nie die bewys van God se afwesigheid nie. Ons het die geneigdheid om ons geloof sensasioneel te maak. Ons verwag dalk 'n groot openbaring, terwyl God 'n sagte herinnering gee. Ons geloof word nie deur gevoelens bepaal nie. Al is dit gesond om aan jou gevoelens erkenning te gee, moet ons ons gevoelens herinner aan die waarheid van wie God is. Ons sien in Dawid se psalms van baie sulke voorbeelde. In Psalm 13, betreur hy dat hy nie van God hoor nie, maar terwyl hy skrywe, herinner hy homself aan wat hy weet die waarheid is — God is liefdevol, God was in die verlede getrou, en God is waardig om geprys te word, of ons Hom aanvoel of nie. 

2. God wil dalk iets binne jou doen, voordat Hy iets aan jou openbaar. Ons sien regdeur die Bybel hoe God Homself openbaar, en dan weer Homself verberg. Nadat Jesus Paulus se lewe herskep, en hom geroep het om die goeie nuus te deel, het Paulus vir drie jaar in die woestyn gewandel. Selfs Jesus — het nadat Hy gedoop is en die stem van sy Vader gehoor het — vir 40 dae en nagte in die wildernis deurgebring, voordat Hy voortgegaan het met sy bediening. God se stilte kom dalk net voor 'n opdrag, wees dus bewus van hoe jy jou geloof, vertroue en karakter in die stilte bou. 

3. Ontneming bring wanhoop na vore. Om ver van God af te voel, dryf ons soms om vir ons verhouding met God te veg. Dink daaroor na. Ons bid dikwels meer wanneer ons lewens buite beheer voel. Hoekom? Ons geloof groei meer wanneer ons in die valleie is — nie op die bergtoppe nie. As jy in 'n tydperk is waar dit voel asof God onbereikbaar is, hou aan om Hom aan te roep. Daardie wanhoop kan jou geloof verdiep, jou help om afleidings te verwyder, en uit te vind watter area van jou hart teenoor God verhard is.  

4. Al voel jy ver van God af, is Hy nooit afwesig nie. Die Bybel vertel ons dat God die goeie herder is, en sy skape ken Hom. Handelinge 17:27 herinner ons dat God nooit ver van enigeen van ons af is nie ("al moet ons rondtas om Hom te vind"). Danksy Jesus, is God nie net by ons nie, maar sy Gees lewe in ons. Dit verg geloof om aan te hou bid wanneer jy niks hoor nie, maar hou moed. God sien jou, Hy gee om vir jou en Hy sal tot jou nader wanneer jy nie moed verloor nie.

Bid: Vader, laat groei my geloof in U, of ek U aanvoel of nie. Openbaar aan my enigiets wat my verhinder om u stem te hoor en gee vir my 'n suiwer hart. Dankie vir u teenwoordigheid, maak asseblief my oë oop om u goedheid in die gewone oomblikke raak te sien. In die Naam van Jesus, amen. 

Uitdaging: Vra vir God om jou te wys waar sy goedheid aan die werk is. Dit kan in die sonsopkoms wees of in 'n bemoedigende woord van 'n vriend. Skryf elke dag neer hoe jy dit raaksien en dink na hoe jou geloof in die proses groei.  

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Ever Wonder Why?

Wat as geloof minder daaroor gaan om al die regte antwoorde te ken en meer daaroor gaan om moeilike vrae te vra? As jy al ooit gewonder het hoekom dit voorkom asof God onregverdig is, hoekom Hy nie ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag nie, of hoekom 'n liefdevolle God die hel geskep het, dan is hierdie 7-dag leesplan, wat gepaardgaan met Pastoor Craig Groeschel se "Ever Wonder Why?"-reeks, vir jou.

More

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.life.church/