Al Ooit Gewonder Hoekom? Voorbeeld
![Ever Wonder Why?](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F28611%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Al Ooit Gewonder Waarom God Sekere Gebede Beantwoord, Maar Nie Ander Nie?
Vandag se vraag is moeilik en soos al die soortgelyke vrae is daar nie 'n maklike antwoord nie. Miskien smeek jy al vir jare dat God jou geliefde sal genees, maar die persoon se toestand bly dieselfde. Miskien sien jy hoe mense in 'n ander deel van die wêreld swaarkry, en jy wonder hoekom God nie net die probleem regstel nie.
Dit maak nie saak hoe jou situasie lyk nie, jy kan weet dat God jou raaksien en Hy gee vir jou om. Psalm 147:3 herinner ons dat God naby die gebrokenes van hart is, en eerder wil hê dat jy vir Hom kwaad sal wees as om van Hom af weg te loop.
Eerstens, wéét dat jy toestemming het om die vraag te vra, en dat dit die moontlikheid inhou om jou in die proses nader aan God te bring.
Tweedens, onthou daar is nie 'n eenvoudige antwoord nie. Soms beantwoord God ons vrae presies soos ons wil hê Hy moet. Die kanker word genees. Ons geliefde besluit om 'n volgeling van Jesus te word. Daar word in ons behoeftes voorsien. Ander kere, voel dit of ons gebede nooit beantwoord word nie en dit kan lei tot frustrasie en geloofsonsekerheid.
Wat as ons gebede wel beantwoord word, maar net nie soos ons dit verwag het nie? Soms is God se antwoord nee. Ander kere is sy antwoord vir ons om te wag. Wat doen ons dan? Hoe kan 'n liefdevolle God nie vir sy kind voorsien nie?
Hier volg iets wat moeilik is om te aanvaar, maar nodig is om te onthou: God bestaan nie om ons te dien nie. Ons bestaan om God te dien.
Wat 'n wonderlike waarheid! Ons perspektief is beperk, maar God het 'n plan vir die hele skepping.
Ons weet dalk nie hoekom God nie altyd ons gebede presies beantwoord soos ons wil hê Hy moet nie. Jesaja 55:8-9 herinner ons egter dat God se gedagtes nie ons gedagtes is nie, en ons optrede nie soos Syne nie. Selfs Jesus se gebede is nie altyd beantwoord soos Hy gevra het nie. Hy het vir God gevra om die lydensbeker van Hom af weg te neem, maar bygevoeg dat nie sy wil nie, maar sy Vader se wil moet geskied.
Die vraag is dus miskien minder oor hoekom God nie altyd ons gebede beantwoord soos ons verwag nie en meer oor wie God is en hoekom ons Hom kan vertrou. Wanneer ons God se karakter ken kan dit vir ons hoop gee, al verstaan ons nie ons omstandighede nie.
Die Skrif herinner ons dikwels wie God is — Hy is ons toevlug en beskerming, ons Geneesheer, ons Verlosser, en nog meer.
Kom ons fokus vandag op Psalm 23. In daardie ses kort versies kan ons soveel sien van die God wat ons dien. Hier volg net 'n paar:
- Die Here is ons herder. Hy is 'n betroubare gids, al verstaan ons nie waarheen ons pad ons lei nie. Hy ken die toekoms — ons sien net die hede raak. Is dit nie soveel beter om 'n Verlosser te glo wat alles sien, in plaas daarvan om op jou eie kortsigtige perspektief staat te maak nie?
- In Hom, kom ons niks kort nie. Al antwoord God nooit weer ons gebede soos ons verwag nie, is Hy steeds meer as wat ons nodig het.
- Hy laat ons rus in groen weivelde, en loop saam met ons deur donker dieptes. Ons fokus soms so op die gebede wat nie op ons manier verhoor word nie dat ons die seëninge miskyk wat God daagliks vir ons gee.
- Hy gee vir ons nuwe krag en sy goedheid en liefde sal lewenslank by ons bly.
- Deur Jesus is ons toekoms by God se tuiste tot in lengte van dae verseker en dit maak nie saak hoe ons huidige seer lyk nie.
Ons weet dalk nie hoekom God nie altyd doen wat ons verwag nie, maar wanneer ons Hom vertrou, kan ons bemoediging vind in die Een wat die sterre in die hemel geplaas het en wat weet hoe elke dag van ons lewe van begin tot einde sal wees.
Gebed: Vader, ek sukkel dikwels om te verstaan hoekom U nie my gebede beantwoord soos ek dit wil hê nie. Nogtans, al weet ek nie hoekom nie, kan ek op U vertrou. Vandag sukkel ek met _______. Sal U my asseblief herinner aan u goedheid? In die Naam van Jesus, amen.
Uitdaging: Maak 'n lys van wie God sê Hy is en hoe jy sy goedheid in jou lewe waarneem.
Aangaande hierdie leesplan
![Ever Wonder Why?](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F28611%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Wat as geloof minder daaroor gaan om al die regte antwoorde te ken en meer daaroor gaan om moeilike vrae te vra? As jy al ooit gewonder het hoekom dit voorkom asof God onregverdig is, hoekom Hy nie ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag nie, of hoekom 'n liefdevolle God die hel geskep het, dan is hierdie 7-dag leesplan, wat gepaardgaan met Pastoor Craig Groeschel se "Ever Wonder Why?"-reeks, vir jou.
More