Al Ooit Gewonder Hoekom? Voorbeeld

Ever Wonder Why?

DAG 1 VAN 7

Al Ooit Gewonder Hoekom?

Die meeste van ons klou vas aan sekerheid want dit gee 'n sin van sekuriteit. Ons hou daarvan om al die regte antwoorde te ken. Ons hou van die veiligheid om self planne te beraam en die meeste van ons wil graag in beheer van ons eie lewens wees. 

Tog, om Jesus te volg, gaan daaroor om ons eie lewens oor te gee aan 'n God wat ons nie kan sien nie, en vir 'n toekoms wat ons nie kan voorspel nie. Dit is dus net natuurlik om op hierdie pad 'n bietjie angs en twyfel te beleef. 

Die probleem is dat baie mense hul moeilike vrae probeer wegsteek, want ons glo ons twyfel gaan ons onbevoeg maak om 'n volgeling van Jesus te wees. 

Wat as ons dit egter verkeerd verstaan? Wat as geloof minder daaroor gaan om al die regte antwoorde te ken en meer daaroor gaan om die moeilike vrae te vra? 

Dit is baie moontlik as jy Jesus reeds 'n rukkie volg, dat jy al 'n paar vrae het. Het jy al ooit gewonder hoekom …  

  • Jy nie altyd God se teenwoordigheid kan aanvoel nie?  
  • God sommige gebede beantwoord, maar nie ander nie?  
  • God onregverdig voorkom?  
  • 'n Liefdevolle God die hel geskep het? 

Dit is almal geldige vrae en daar is nog miljoene wat gevra kan word. Die wonderlike ding is dat God vir ons toestemming gee om met hierdie moeilike begrippe te worstel. Jou twyfel diskwalifiseer jou nie en jou vrae sonder antwoorde beteken nie dat jy 'n valse geloof het nie. 

Regdeur die Bybel sien ons ontelbare karakters — almal met ware gedagtes, vrese en gevoelens — wat God bevraagteken. Dawid, wat as kind die reus verslaan het, word een van Israel se grootste konings en staan bekend as 'n "man na God se hart" en het baie Psalms geskryf, tog het hy diepe twyfel ervaar. Kyk wat hy in Psalm 13 geskryf het:

"Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?" Psalm 13:1.

Johannes die Doper — die man wat geroepe was om die pad vir Jesus voor te berei — het Hom ook bevraagteken. Nadat hy alles gedoen het wat God vir Hom gegee het om te doen het Johannes onder onregverdige omstandighede in die tronk beland. Vanuit sy tronksel het hy die volgende boodskap aan Jesus gestuur: 

“Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Matteus 11:3.

Ons sien in Matteus, nadat Jesus uit die dood opgestaan het, dat sommige van sy eerste dissipels nog twyfel. Jesus self, terwyl Hy aan die kruis gehang het, het ook vir God gevra waarom Hy hom verlaat het. 

Die vyand van geloof is dus nie twyfel nie. Die vyand van geloof is eerder om voor te gee asof ons alles weet. 

Hebreërs 11:1 vertel ons om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Geloof is nie 'n mooi verpakte begrip wat ons met 'n strikkie om kan toedraai nie. Dit is meer soos 'n misterie waaroor ons ons verwonder, as 'n raaisel wat ons kan oplos. 

Tog is ons geloof steeds standvastig. Dit gaan bloot minder oor die kennis wat ons opdoen en meer oor die vertroue in die Een deur wie ons geskep is. Ons toekoms is verseker wanneer ons glo dat Jesus is wie Hy sê Hy is — die Een wat uit die dood opgestaan het — om die dood en sonde te oorwin. 

Dit beteken nie dat dit maklik is om 'n volgeling van Jesus te wees nie. Inteendeel, Jesus het self gesê — nadat Johannes die Doper in Hom getwyfel het — "gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo" (Johannes 20:29). 

Geloof is dus nie maklik nie en jy gaan vrae op jou pad hê. God is egter nie bang vir ons twyfel nie, en anderkant ons eerlike vrae mag ons dalk net 'n dieper gevoel van sekuriteit vind as wat ons ooit gedink het moontlik kan wees. 

Bid: Vader, dankie dat U vir ons toestemming gee om te stoei, te twyfel en eerlike vrae aan U te vra. Vandag sukkel ek regtig om te glo dat ____, maar ek weet selfs in my twyfel, dat U goed is, getrou is en dat u Woord waar is. Maak my oë oop om u werk te sien en openbaar Uself aan my op nuwe maniere. Ek vertrou U. In die Naam van Jesus, amen. 

Uitdaging: Ons gaan oor die volgende paar dae vrae bespreek wat mense oor God het. Maak vandag tyd om na te dink oor vrae wat jy vir God het. Hoe kan jy daardie vrae voor God neerlê? Wie kan jy saam met jou bring terwyl jy daarmee worstel? 

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Ever Wonder Why?

Wat as geloof minder daaroor gaan om al die regte antwoorde te ken en meer daaroor gaan om moeilike vrae te vra? As jy al ooit gewonder het hoekom dit voorkom asof God onregverdig is, hoekom Hy nie ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag nie, of hoekom 'n liefdevolle God die hel geskep het, dan is hierdie 7-dag leesplan, wat gepaardgaan met Pastoor Craig Groeschel se "Ever Wonder Why?"-reeks, vir jou.

More

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.life.church/