In Die BeginVoorbeeld
Lees: Genesis 2:1–3; Eksodus 20:8–11; Markus 2:27
SOAP: Eksodus 20:11
"Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig."
Oordenking
Dit was nie vir God nodig om op die sewende dag te rus nie; Hy het nie gerus omdat Hy moeg was nie. God wou eerder rus om ‘n patroon van rus in die skepping te vestig. God kon die week ses dae lank gemaak het, maar in plaas daarvan het Hy nog ‘n dag bygevoeg: ‘n rusdag. God het ‘n rusdag in die patroon van tyd ingebou.
Jare later, nadat God Israel uitgekies het om sy volk te wees, nadat God hulle uit slawerny in Egipte bevry het, nadat God in die woestyn vir hulle voorsien het, het God die tien gebooie vir die Israeliete gegee. Hierdie gebooie was bedoel om God se volk van ander volke te onderskei. Terwyl nege van die gebooie op elke persoon van toepassing is, was een daarvan ‘n nuwe, spesifieke opdrag vir die volk Israel.
God het die Israeliete beveel om die sewende dag van die week as heilig af te sonder. Die sabbat was ‘n simbool van God se verbond met sy uitverkore volk. Terwyl al die ander volke rondom hulle sou aanhou werk, het God se volk hulle onderskei deur die sabbatdag te eerbiedig.
Ons is vandag nie meer onder die Ou Testamentiese wet nie, en dit word nie meer van ons as Christene vereis om die sabbat te onderhou nie. Dit is egter vir ons ‘n voorreg om die praktyk van sabbat te beoefen! Ons kan rus in God se voltooide werk, nie net in die skepping nie, maar in die verlossing van sonde. Jesus het al die werk afgehandel om ons te verlos. Ons kan rus in sy voltooide werk.
Die beoefening van sabbat is om ons te herinner dat God ons ontwerp het om rustye in ons lewe te hê. Die sabbat is ‘n patroon wat ons steeds kan beoefen om God en die wyse waarop Hy die aarde geskep het, te eer en vir ons liggame, gesinne en gemeenskappe te sorg. Wanneer ons ‘n dag wegbreek van ons werk en bedrywighede om Hom te verheerlik en te aanbid, bied dit ons die geleentheid om God se patroon van rus aan die wêreld te vertoon.
Gebed
Here, U is goed. U het vir my beswil ‘n rusdag geskep. Help my om die sabbat te eerbiedig, nie uit wetsonderhouding nie, maar omdat dit ‘n vreugde is! U het al die werk wat ooit gedoen moes word, voltooi. Help my om te rus en vertroue te hê in u voltooide werk in die skepping en verlossing. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
In die Begin is 'n ses weke lange Bybelstudie oor Genesis 1-11. Hierdie studie ondersoek die skeppingsverhaal, die oorsprong van die mensdom, die invloed van sonde op die wêreld, die onmiddelike belofte van verlossing, die redes vir die vloed, God se voorsiening vir Noag en sy familie, God se eerste verbond met die mensdom en die geslagsregister van die Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/