In Die BeginVoorbeeld

In Die Begin

DAG 10 VAN 43

Lees: Genesis 1:24–31; Job 39:1–12

SOAP: Genesis 1:27

"God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep."


Oordenking

Die sesde dag is die hoogtepunt sowel as die doel van God se skepping. God het die hemele, die aarde, die lug, die see en die land geskep en dit toe met sterre, voëls, visse en diere gevul. Uiteindelik het God mense geskep. Dit was die hoogtepunt van die skepping want die mens was anders as enige ander skepsel: die mens is as die beeld van God geskep.

Om as die beeld van God geskape te wees, gaan ons verstand ver te bowe. Om as die beeld van God geskape te wees, beteken nie dat ons soos God lyk nie. As mense weerspieël ons eerder God se karakter en aard, nie sy vorm nie. Ons vertoon sy beeld wanneer ons sy karakter weerspieël. Ons kan skep, meelewing toon, liefhê en kommunikeer. (Sonde het natuurlik ‘n uitwerking gehad — en het nog steeds — op ons vermoë om God se karakter te   weerspieël, maar het nog nie in die gedeelte van Genesis wat ons gelees het, in die prentjie verskyn nie.)  

Om as die beeld van God geskape te wees, beteken dat ons ontwerp is om in die wêreld ‘n weerspieëling te wees van wie God is. God het ‘n goddelike doel waarom Hy ons so gemaak het. Dit is om navolgers van Hom te wees. Ons moet sy verteenwoordigers wees, en sy liefde in die skepping vertoon teenoor dié wat Hom nie ken nie. Ons moet lewe skep soos Hy. Ons moet oor die aarde heers en dit onderwerp. Ons moet elke dag sy karakter vertoon. 

Net soos God grense vir die res van die skepping daargestel het, het Hy ook grense vir die mensdom geskep. Ons is nie God nie, maar ons het die groot voorreg om as God se beeld gevorm te wees. Dit is nie ‘n las nie, maar ‘n eer om Hom in hierdie wêreld te weerspieël. Mag ons elke dag as sy verteenwoordigers leef en sy liefde teenoor die res van die skepping uitleef.  


Gebed

Here God, dit bly vir my oorweldigend om te weet dat ek as u beeld geskep is. Help my om dit elke dag al hoe beter te begryp. Laat my teenoor die wêreld ‘n weerspieëling wees van wie U is, van u karakter en u liefde. Amen.

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

In Die Begin

In die Begin is 'n ses weke lange Bybelstudie oor Genesis 1-11. Hierdie studie ondersoek die skeppingsverhaal, die oorsprong van die mensdom, die invloed van sonde op die wêreld, die onmiddelike belofte van verlossing, die redes vir die vloed, God se voorsiening vir Noag en sy familie, God se eerste verbond met die mensdom en die geslagsregister van die Messias.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://lovegodgreatly.com/afrikaans/