Gewoontes vir GelukVoorbeeld
Gewoonte vir Geluk: Wees Bewus van wat Saak Maak en Wat Nie
Elke dag wanneer jy uit die bed opstaan, moet jy jouself herinner aan wat saak maak en wat nie. Moenie toelaat dat jy afgelei word deur nietige en onbelangrike dinge in die lewe nie.
Hoekom is dit 'n belangrike gewoonte? Het jy al agtergekom hoe maklik 'n mens jou vreugde verloor oor 'n klein dingetjie? Dis gewoonlik die klein irritasies wat veroorsaak dat jy jou geluk verloor. Iemand ry voor jou in en jy raak ongelukkig. Jou hare wil nie reg lê nie, of jou klere pas nie meer nie en jy laat toe dat dit jou geluk vernietig. Dis die onbenullige goed wat ons soms die meeste beïnvloed, en dis juis húlle wat nie saak maak nie.
Paulus sê in Filippense 3:7 (NLV): "Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ’n wins beskou het, beskou ek dit ter wille van Christus nou as ’n verlies."
Wat was die heel belangrikste ding vir jou, voor jy Jesus Christus ontmoet het? Jou werk? Jou loopbaan? Om geld te maak? Dalk was dit om 'n metgesel te vind. Dalk wou jy gewild wees. Of dalk wou jy sekuriteit of roem hê.
Paulus sê dat al daardie dinge nie meer saak maak nie, indien jy dit vergelyk met die vreugde wat jy ondervind deur Jesus te ken.
Die strik wat jou daarvan gaan weerhou om hierdie gewoonte te kweek, is die huidige kultuur wat die media aan jou voorhou. Elke dag is daar duisende boodskappe in advertensies wat sê: "Jy is niks werd as jy nie een van ons produkte het nie." Selfs die televisienuus laat dit klink asof elke berig die belangrikste ding van die dag is. Dit is nie! Niks is so waardeloos soos gister se koerant nie. Net omdat dit dringend en huidig is, beteken nie dit is belangrik nie.
Die vraag wat jy jouself oor alles moet afvra, is: hoeveel saak sal dit oor 100 jaar maak? Hoeveel van dít waaroor ek my vandag bekommer, gaan môre saak maak? Dit gaan heel waarskynlik nie môre saak maak nie, wat nog te sê vir ewig. Jy moet lewe met die ewigheid in gedagte.
Die wêreld streef onbenullighede na. Ons lewe vir dinge wat nie regtig saak maak nie. Om hierdie denke te kan uitbalanseer, moet jy op die ewigheidswaarde van dinge fokus. Wanneer jy met die ewigheid in gedagte lewe, sal jy besef dat die klein goedjies waaroor jy bekommerd is, nie in die ewigheid gaan saak maak nie. In plaas daarvan om gespanne te wees, kan jy 'n gelukkiger persoon wees.
"Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou" (Filippense3:8a NLV). Onthou elke dag wat die meeste saak maak.
Luister na die klankonderrig |
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Sluit by Pastoor Rick aan vir hierdie reeks wat jou sal help om daaglikse gewoontes te kweek en wat jou 'n gelukkige persoon sal maak. Stap saam deur Filippense, die gelukkigste boek in die Bybel.
More